Sekere dinge maak jou lewe in die kombuis net soveel makliker. Hier is vyf wenke wat elke huiskok moet hoor om kosmaak ’n vreugde te hou!

1. Keer dat aartappels bruin raak

Wanneer jy aartappels skil, is dit belangrik om die geskilde aartappels in koue water te hou terwyl jy die res skil. Wanneer aartappel met lug in aanraking kom, word die stysel in die knol bruin – jy kan dit steeds eet, maar dit lyk minder mooi.

2. Hou tamaties vars

Hou tamaties stingelent na onder by kamertemperatuur om hulle langer vars te hou. Wanneer die stingels onder is, keer dit dat suurstof in die tamatie intrek en vog verdamp.

Tamaties is ook een van die min vrugte (ja, die tamatie is ’n vrug!) wat langer by kamertemperatuur hou as in die yskas: Tamaties hou nie van vog nie en daar is baie vog in die yskas.

3. Keer dat piesangs pap raak

Wanneer jy piesangs koop, breek hulle los van mekaar en draai die stingelent toe met kleefplastiek. Die stingels stel etileengas vry wat die rypmaakproses aanhelp. Hou piesangs ook weg van ander vrugte en groente wat jy vars wil hou. As jy harde vrugte gouer ryp wil kry, sit dit in ’n kardoessak met ’n piesang of twee daarby. Dit werk veral goed met avokado’s.

4. Maak só met gesnyde vrugte 

Jy weet seker as jy appels of pere sny, druk jy ’n klein bietjie suurlemoensap oor om te keer dat dit bruin raak. Ongelukkig kan dit ’n suur smaak agterlaat. Meng volgende keer ’n paar teelepels heuning met ’n bietjie water en gooi dit oor jou vrugte. Heuning bevat ook suur wat oksidasie, die bruin op die gesnyde vrugte, help voorkom – en dis lekker soet!

5. Hou jou suikerkorrels los

As jy so baie van bruinsuiker hou soos ek, sal jy weet dat as jy nie so baie die suikerhouer oopmaak nie, die suiker gou in een groot klont verander. Gooi ’n paar lemoenskille in jou houer met bruinsuiker. Die skille sit vog in suiker om dit lekker los te hou én gee ’n subtiele lemoensmaak. Jy kan dieselfde doen met witsuiker.

Lees nou

Kaasburger, uieringe en sjokoladetert – als met whisky vir Inspirasiekos met SARIE

MasterChef SA-sussie toor velsorgprodukte op

Maak só die lekkerste koolslaai nog!