Lewer 10 – 12

  • 310 ml hawermout
  • 375 ml volkoring-bruismeel, gesif
  • 2,5 ml sout
  • 60 ml suiker-plaasvervanger, bv. Sugalite, fruktose of Canderel
  • 50 g laevet-margarien
  • 250 ml droë-appelkose, gekap
  • 60 ml pistasieneute, gekap
  • 250 ml karringmelk
  • 1 eier
  • bietjie melk vir bo-oor verf Vir voorsit
  • diabetiese konfyt
  • Tusser’s- of ’n wit kaas

Verhit oond tot 220 °C. Plaas die hawermout in ’n voedselverwerker en maak fyn. Meng fyn hawermout met die meel, sout en suiker-plaasvervanger. Vryf margarien met jou vingerpunte in totdat dit soos broodkrummels lyk. Vou die appelkose en neute in. Klits eier en karringmelk saam. Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele en voeg die vloeistof by. Meng met die punt van ’n mes tot die deeg bymekaarkom – pas op vir te veel hanteer. Keer uit op werkoppervlak wat liggies met meel bedek is. Rol deeg uit tot dit ongeveer ’n 16 cm-sirkel maak. Sny skons uit met ’n ronde koekiedrukker van sowat 4 cm. Plaas op ’n gesmeerde bakplaat. Verf ’n bietjie melk bo-op elke skon. Bak vir 20 – 25 minute tot gaar of tot die skons hol klink as jy daarop tik. Lekker met kaas en konfyt!