Lemoen en beet is paasmaats! Probeer dit en die kombinasie sal jou verras. Jy kan koeskoes of koring in die plek van die quinoa (soort saadjie) gebruik

(Genoeg vir 4)

Baktyd: 20 minute

  • 500 g baba-beet, geskil
  • 60 ml olyfolie
  • hand vol pietersielie, gekap
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap
  • 2 lemoene
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 200 g Deense fetakaas
  • 340 g quinoa, gekook volgens pakkieaanwysings
  • 1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer en afgespoel
  • 40 g bronkors

Verhit oond tot 200 °C. Sit die bababeet in ’n oondpan en sprinkel 30 ml van die olyfolie, pietersielie, rissie, en fyn gerasperde skil en sap van 1 lemoen booor. Geur met sout en peper. Bedek met foelie en oondbraai sowat 20 minute tot sag. Rasper intussen die ander lemoen se skil fyn en segmenteer dan die lemoen. Hou segmente eenkant en behou die oorblysels van die lemoen. Maak nou ’n sous van die gerasperde lemoenskil gemeng met 50 g van die fetakaas en 30 ml olyfolie. Druk sap uit lemoen se oorblyfsels en voeg sap by sous. Hou sous eenkant. Plaas die gaar quinoa, kekerertjies, bronkors en geroosterde= beet op ’n opdienbord. Krummel die res van die fetakaas by en sprinkel lemoensegmente oor. Geur met sout en peper en sit voor met fetakaas-lemoensous.