(6 porsies)

  • 600 g ontbeende hoenderborsies, sonder vel
  • 18 kersie-tamaties
  • balsemasyn-stroop (sien onder)
  • 60 g roketblare
  • 60 g baba-kruie
  • 60 g langblaarslaai (cos lettuce)
  • 200 g komkommer, in lang, dun repies gesny
  • hand vol sprietuie, in skyfies gesny
  • gerookte paprika-aïoli (sien onder)
  • 60 g parmesaan-kaas, skaafsels

Verhit oond tot 180 °C. Verhit 'n niekleef-pan oor matige hitte. Braai hoender tot bruin. Plaas hoender op gesmeerde bakplaat en bak vir 5 - 7 minute. Laat afkoel en plaas in yskas. Verhit oond tot 220 °C. Plaas tamaties op gesmeerde bakplaat en rooster vir sowat 3 - 4 minute totdat vel blasies begin vorm. Haal uit en gooi balsemasyn-stroop oor. Laat afkoel. Sny hoender in dun skywe. Spoel slaaiblare af en droog af met kombuispapier. Plaas blare op slaaibord. Pak tamaties, komkommer, sprietuie en hoender bo-op. Sprinkel gerookte paprika-aïoli en parmesaan-skaafsels oor.

Balsemasyn-stroop

  • 200 ml balsemasyn
  • 200 g witsuiker

Plaas asyn en suiker in kastrol en verhit oor lae hitte. Bring tot kookpunt en haal van hitte af. Laat afkoel.

Gerookte paprika-aïoli

  • 1 eiergeel
  • 10 ml witwyn-asyn
  • 500 ml sonneblomolie
  • 5 ml gerookte paprika
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Klits eiergeel met elektriese handklitser en voeg asyn by. Meng goed. Voeg olie baie geleidelik by terwyl jy aanhou klits. Voeg paprika by en geur met sout en swartpeper. Plaas in yskas tot benodig.