Resep deur Annerien Vermeulen

So eenvoudig, maar so lekker! Die vark en die perske pas wonderlik by 'n heuning-lemoen-slaaisous. Varkfilet is goedkoop, bevat min vet en word vinnig gaar. Jy kan dit ook met gerookte hoender vervang. As nektariens nie beskikbaar is nie, kan jy enige ander perske gebruik, of selfs ingelegde perskes in natuurlike sous. Sit voor met pita-croutons

(4 porsies)

  • 500 g varkfilet, in ½ cm-skywe gesny
  • sout en peper
  • olyfoliesproei
  • 3 nektariens (so 400 g), in skywe gesny
  • 200 g blaarslaaimengsel met roket en baba-spinasie
  • ½ komkommer, in dun repies gesny
  • 75 g granaatpitte
  • 60 ml gekapte rooi- of gewone slaai-uie (spring onions)
  • heuning-lemoen-slaaisous

Geur varkskywe met sout en peper. Verhit ’n rooster/riffelpan en spuit met olyfoliesproei. Rooster varkskywe tot gaar. Hou eenkant. Rooster nektarienskywe op dieselfde rooster/riffelpan tot dit mooi rooster-strepies daarop maak – die perske moet nog sy vorm behou. Rangskik blaarslaai op ’n bord. Rangskik vark en perske bo-op, gevolg deur komkommer, granaat en uie. Skep slaaisous oor en sit voor.