Resep deur Annerien Vermeulen

'n Lekker speserykoekie met 'n bros tekstuur. Die deeg is nigal sag en daarom kan jy 'n bietjie ekstra meel gebruik om die deegballetjies te vorm. Dis belangrik om die deeg eers in die yskas te sit, sodra dit makliker is om daarmee te werk.

55 koekies

• 250 ml volgraanmeel

• 125 ml sojaof gewone koekmeelblom

• 190 ml hawersemels

• 12 ml kaneel

• 2 ml sout

• 310 ml okker- of pekanneute, gekap

• 250 ml laevet-margarien

• 129 g (190 ml) suikerplaasvervanger soos Sugalite

• 5 ml vanieljegeursel

• 1 eier

• ekstra meel indien deeg te sag is

• 20 g (30 ml) suikerplaasvervanger soos Sugalite, ekstra

• 3 ml kaneel, ekstra

Verhit oond tot 170 °C. Voer 2 bakplate uit met bakpapier en spuit met kleefwerende kossproei. Meng die twee soorte meel, hawersemels, kaneel en sout. Voeg neute by. Verroom margarien en suikerplaasvervanger saam. Voeg geursel en eier by. Voeg die meelmengsel geleidelik by die margarienmengsel en roer tot deeg vorm. Plaas in ’n bak en bedek met kleefplastiek. Laat in yskas rus vir 1 uur. Maak balletjies en plaas op die voorbereide bakplate. Voeg ekstra meel by indien deeg te sag is. Druk effens plat met die agterkant van ’n vurk. Meng die ekstra suikerplaasvervanger en kaneel en strooi oor die koekies. Bak 15 minute tot gaar. Verlaag oond se temperatuur tot 100 °C en laat die koekies vir 15 – 20 minute uitdroog. Haal uit en laat afkoel.