Die seekosgereg word sommer in die hawe gemaak met die vangs van die dag. Die saffraan en witwyn maak die tamatiebasis van hierdie resep ekstra lekker.

Genoeg vir 4

• 1 knippie saffraan

• 30 ml kookwater

• 45 ml kanola-olie

• 1 ui, fyngekap

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 10 ml vinkelsaad

• 250 ml witwyn

• 1 x 410 g-blik kersietamaties

• 500 ml visaftreksel

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 32 swart mossels in die skulp

• 35 steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak

• hand vol pietersielie, fyngekap

Week saffraan 10 minute in kookwater. Verhit olie tot warm in groot braaipan. Voeg ui, knoffel en vinkel by. Roerbraai 5 – 8 minute of tot ui begin verbruin. Gooi wyn by en laat wegkook, sowat 5 minute. Voeg tamaties, aftreksel en geweekte saffraan by. Verlaag hitte en laat prut tot vloeistof met helfte verminder het, sowat 8 – 10 minute. Geur goed met sout en peper. Gooi mossels en garnale by en meng deur. Plaas deksel op pot, verhoog hitte van plaat en kook 5 – 8 minute op hoë hitte of tot mosseldoppe oopgaan. Roer pietersielie deur en sit voor.

Ontleding per porsie – kilojoules 1 273; proteïen 27,9 g; koolhidrate 5,3 g; vet 15 g