(8 porsies)

Die verrassing Die slaai lyk soos ‘n pastei, maar wanneer dit oopgemaak word, is daar ‘n vars slaai in die bakkie binne.

  • 2 velle (400 g elk) blaardeeg
  • 1 eier, geklits
  • genoeg waatlemoen om so 8 balletjies per persoon te maak
  • 1 houer (400 g) fetakaas
  • 4 klein koppe langblaarslaai (cos lettuce)
  • hand vol vars bronkors

Verhit oond tot 180 °C. Kies die bakkies waarin jy die slaai wil voorsit. Meet die boonste deursnee. Sny 8 sirkels uit die blaardeeg wat so ‘n halwe sentimeter groter is as die bakkies. Plaas op uitgevoerde bakplaat en smeer deegsirkels met geklitste eier. Gebruik van die afvalstukkies deeg en versier die sirkels. Plaas in oond en bak tot goudbruin en gaar – sowat 30 – 35 minute. Haal uit en laat koud word. Gebruik ‘n spanspek-balletjiemaker en vorm balletjies uit die waatlemoen en fetakaas. Hou balletjies in

yskas tot net voor jy die slaai voorsit. Verdeel blaarslaai tussen bakkies en plaas die fetakaas en waatlemoen bo-op. Sit van die bronkors bo-op en maak toe met deegdeksels. Sit dadelik voor.

Wenk: Jy hoef natuurlik nie balletjies uit die fetakaas en waatlemoen te vorm nie; jy kan dit ook in blokkies sny. Die fetakaas wat afval wanneer jy die balletjies maak, moet jy nie weggooi nie. Hou dit en krummel dit op ’n ander dag oor ’n slaai.