Resep deur Annerien Vermeulen

As jy hierdie slaai saam met die filet bedien, hoef jy nie die halloumi by te voeg nie. Jy kan ook enige ander bestanddele bysit waarvan jy hou Die slaaisous is heerlik in enige slaai. Die slaai is ook 'n lekker hoofgereg - pas net die porsies aan.

(8 porsies as ’n bygereg en 4 porsies as ’n hoofgereg)

Slaai

  • 1 blikkie groen aspersies of 1 bossie vars aspersies, geblansjeer en liggies gerooster in riffelpan met bietjie olyfolie
  • 1 blikkie kekerertjies, gedreineer
  • 20 ml olyfolie
  • 1 knoffelhuisie, gekap
  • 250 g halloumi-kaas, in skywe gesny
  • 250 g baba-rosatamaties, gehalveer
  • sout en peper na smaak

Slaaisous

  • 100 g pietersielie, gekap
  • 50 ml olyfolie
  • 1 knoffelhuisie
  • skil en sap van 1 suurlemoen
  • sout en peper na smaak

Braai die aspersies en kekertjies in die olyfolie en knoffel om dit te verhit. Droogbraai die halloumi tot goudbruin. Plaas die aspersies, kekerertjies, halloumi en tamaties op ’n opdienbord. Geur goed. Meng al die bestanddele vir die slaaisous en skud goed saam. Gooi oor slaai en sit voor.