Dis die perfekte somerslaai, want die appel se varsheid verfris jou palet. genoeg vir 6 Sorbet

• 8 Granny Smith-appels • sap en skil van 3 suurlemoene • 200 g (250 ml) suiker • 500 ml water Slaai

• 60 ml olyfolie

• 1 rooi brandrissie, fyngekap

• sap en skil van 2 suurlemoene

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 30 g slaaiblare van jou keuse

• 3 stingels seldery, gesny

• 2 Granny Smith-appels, in dun ringe gesny

• 25 gaar steurgarnale (kyk by supermark se seekos-afdeling)

Dag voor Kersfees Ontklok appels en halveer. Plaas in vriesbestande bak en sprinkel suurlemoensap en -skil oor. Plaas in vrieskas vir 3 uur. Bring suiker en water tot kookpunt en kook vir 3 minute. Laat afkoel tot louwarm. Plaas bevrore appels en suikerstroop in voedselverwerker en verpulp by hoë spoed tot gladde puree – die koudheid van die appels keer dat die appelsap bruin raak. Druk mengsel deur sif en plaas in plat vriesbestande bak in vrieskas. Roer elke 20 minute tot mengsel sag gevries is. Smeer plat en laat vries tot gestol.

Kersdag Meng olie, rissie en sap en skil van suurlemoene vir slaaisous. Geur met sout en peper. Plaas slaaiblare, seldery en appelringe in opdienbak. Pak garnale op en skep balle appelsorbet bo-op. Sprinkel slaaisous oor en sit dadelik voor.