Paasfees is nie vir my Paasfees sonder die een of ander gebak met kaneel en speserye in nie. My man skep elke keer twee porsies (en vertel dan vir almal hoe gesond dit is ...).

Ek kry ook gereeld navrae vir resepte wat minder tot geen suiker het én glutenvry is. Toe ek hierdie resep ontwikkel het, het ek klappermeel probeer. Dit is glutenvry, bevat baie vesel en het ’n lae GI. Dit werk baie goed hier.

* Klappermeel is beskikbaar by gesondheidswinkels en sekere apteke. As jy dit nie kan kry nie, kan jy gewone volkoringmeel gebruik.

Pleks van die bakpoeier kan xanthan-gom gebruik word as rysmiddel.

genoeg vir 15 porsies

• 190 ml suikerplaasvervanger

• 125 ml vetvrye vanieljejogurt

• 60 ml kanola-olie

• 3 groot eiers

• 5 ml fyn kaneel

• 1,2 ml fyn gemmer

• 1,2 ml fyn neutmuskaat

• 2,5 ml bakpoeier

• 1,2 ml sout

• 1,2 ml koeksoda

• 310 ml klappermeel (of volkoringmeel)

• 1 groot blik (765 g) onversoete tertappels, in stukke gekap

Bolaag

• 45 ml laevet-margarien, gesmelt

• 45 ml sagte bruinsuiker

• 50 ml vetvrye melk

• 2,5 ml fyn kaneel

• 250 ml fyn klapper

Verhit oond tot 170 °C. Spuit ’n 25 x 10 cm-tertbak met kleefwerende kossproei. Klits suikerplaasvervanger, jogurt, olie, eiers, kaneel, gemmer, neutmuskaat, bakpoeier en sout saam. Vou koeksoda en meel in. Roer gekapte appels by. Skep in voorbereide bak, en bak dan 35 – 40 minute tot gaar in warm oond.

Bolaag

Terwyl tert bak, meng al die bestanddele vir bolaag. Skakel oond se roosterelement aan. Skep bolaag oor warm tert sodra dit uit oond kom. Plaas onder roosterelement vir 2 – 3 minute tot bolaag ligbruin is.

Sny tert in blokkies. Heerlik met laevet-vla of diabetiese roomys.

Hierdie resep is oorspronklik in SARIE KOS, April / Mei 2012-uitgawe, geplaas. 

Jy sal ook geniet

Paaskolwyntjies

Ongebakte sjokoladekoekies