Die slaai kry ekstra woema met drie soorte boontjies en sneeu-ertjies.

Genoeg vir 12

• 45 ml kanola-olie

• 4 knoffelhuisies, fyngekap

• hand vol pietersielie, fyngekap

• 20 steurgarnale, skoongemaak

• 1 x 350 g-sakkie fyn groenbone

• 1 x 400 g-blik borlotti-bone, gedreineer

• 1 x 400 g-blik kekerertjies, gedreineer

• 1 x 110 g sakkie sneeu-ertjies

• sout en varsgemaalde swartpeper

Slaaisous

• 2 rooi brandrissies, fyngekap

• sap en skil van 1 suurlemoen

• 30 ml korrelmosterd

• 60 ml balsemasyn

• 120 ml olyfolie

Meng olie, knoffel en pietersielie. Marineer garnale 20 minute in mengsel. Bring intussen pot met water tot kookpunt en dompel groenbone vir 1 minuut in water. Dreineer en plaas in slaaibak. Voeg ander bone en ertjies by. Verhit kole tot medium-warm en braai gemarineerde garnale tot goudbruin en gaar, 8 – 10 minute. Plaas in slaaibak. Meng al die bestanddele vir die sous en gooi oor slaai. Meng deur en sit voor.