Aspersies met suurlemoen-mayonnaise

Aspersies met suurlemoen-mayonnaise

Hierdie is ’n baie eenvoudige bykos, maar ek verseker jou, dis net wat jou gesin nodig het om groente te eet!

genoeg vir 6

  • 4 eiergele
  • 45 ml dijonmosterd
  • 1 knoffelhuisie, baie fyn gekap
  • 350 ml kanola-olie
  • sap en gerasperde skil van 3 suurlemoene
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 2 x 170 g-pakkies vars aspersies
  • 45 ml botter
  • 100 g gevlokte amandels

Plaas eiergele, mosterd, knoffel en olie in glasmaatbeker met volume van 500 ml. Plaas staafmenger in mengsel op bodem van beker. Skakel aan en lig stadig uit beker. Mayonnaise sal vorm soos die menger boontoe beweeg. Voeg suurlemoensap en -skil by en meng deur. Geur baie goed met sout en peper. Dompel aspersies in kookwater vir paar minute. Dreineer. Verhit braaipan tot warm en voeg botter by. Voeg amandels en aspersies by en skud pan liggies heen en weer tot amandels begin verbruin. Geur met sout en peper. Sit voor met mayonnaise.

Griekse suurlemoen-lamsboud

Griekse suurlemoen-lamsboud

Hierdie gaan jou nuwe Sondagtafel-gunsteling raak. Die vleis is geurig en smaak vorentoe. Die romerige sous maak jy van fetakaas.

genoeg vir 6-8

  • 1 lamsboud van so 2 kg
  • 10 heel knoffelhuisies
  • 6 roosmaryntakkies
  • 3 suurlemoene, in skywe gesny
  • 45 ml olyfolie
  • 2 uie, grofgekap
  • 200 g tamatiepasta
  • 750 ml rosé-wyn
  • 500 ml beesaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Feta-room

  • 4 wiele feta, gekrummel
  • 2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
  • 125 ml room
  • 125 ml hoenderaftreksel

Verhit oond tot 200 °C. Steek met ’n skerp mes 10 gate oraloor in boud. Druk ’n knoffelhuisie in elke gat. Plaas roosmaryntakkies en suurlemoenskywe bo-op vleis en bind stewig vas met kombuistou. Verhit olyfolie tot warm in groot braaipan. Braai boud vir 5 minute per kant of tot oraloor goudbruin. Haal uit pan en plaas in groot oondvaste bak met deksel. Braai uie in pan tot dit begin verkleur. Voeg tamatiepasta, wyn en aftreksel by. Bring tot kookpunt. Gooi oor vleis. Geur met sout en peper. Plaas in warm oond en oondrooster vir 3 uur met deksel op. Terwyl boud rooster, maak solank die sous. Feta-room Plaas feta, knoffel, room en aftreksel in pot en roer oor lae hitte tot feta gesmelt is en gladde sous vorm. Plaas gaar lamsboud op dienbord. Gooi potsous en feta-room oor. Sit voor.

Lemmetjie-en-knoffel-aartappels

Lemmetjie-en-knoffel-aartappels

Die maklikste en geurigste bykos wat jy vanjaar sal maak. Dis min bestanddele, maar smake wat jou duidelik groet. Ek rooster die aartappels in soutwater vir ’n geurige kors.

genoeg vir 6

  • 500 g baba-aartappels
  • 45 ml sout
  • 250 ml water
  • 250 ml topgehalte-mayonnaise (jy kan die suurlemoen-mayonnaise hiernaas ook gebruik)
  • 100 ml melk
  • 1 hand vol Italiaanse pietersielie
  • fyngerasperde skil van 3 lemmetjies

Plaas aartappels in pot en bedek met koue water. Kook vir 12-15 minute of tot aartappels byna sag is, maar nie heeltemal deurgaar nie. Verhit intussen oond tot 220 °C. Meng sout en water. Dreineer aartappels en plaas in oondroosterpan. Gooi soutwater oor en rooster in oond vir 20-25 minute of tot water verdamp het en aartappels byna ’n wit soutlaag vorm. Haal uit oond. Meng res van bestanddele en pols met staafmenger tot groen sous vorm. Sit warm aartappels voor met groen sous.

Gestolde suurlemoenroom (posset)

Gestolde suurlemoenroom 

Hierdie Britse lekkerte – ’n room gestol met suurlemoensap – het ek op skool leer ken. Dis so maklik om te maak. Die geheim is klein porsies en altyd vars suurlemoensap.

genoeg vir 6

  • 300 ml dubbeldik room
  • 80 g (95 ml) strooisuiker
  • 70 ml vars suurlemoensap (dit moet vars wees, anders stol die room nie)

Bring room en strooisuiker in middelslagpot tot kookpunt en laat vir 5 minute vinnig kook. Verlaag hitte tot room stadig prut. Roer suurlemoensap by en hou aan roer vir 5 minute terwyl mengsel prut. Verdeel mengsel tussen glasies van jou keuse en laat stol in yskas. Sit voor met nartjiesegmente en/of bessies van jou keuse.

Lemoen-en-papawerkoek

Lemoen-en-papawerkoek

’n Groot treffer uit my ma se tuisbedryf, veral as jy van ’n lemoengeur hou. Sy het hom meestal in broodpanne gebak en nie in lae nie. Besluit self, pas net die baktyd aan.

Maak een 23 cm-koek

Koek

  • 185 ml melk
  • 45 ml botter
  • gerasperde skil van 3 lemoene
  • 210 g (250 ml) strooisuiker
  • 2 eiers, heel
  • 2 eiers, geskei
  • 160 g (375 ml) koekmeel
  • 7,5 ml bakpoeier
  • ’n knippie sout
  • 125 ml papawersaad

Stroop

  • 320 g (375 ml) suiker
  • 250 ml water
  • 45 ml botter
  • 250 ml suiwer lemoensap

Versiersel

  • 230 g (250 ml) sagte botter
  • 125 ml roomkaas
  • 100 g (200 ml) versiersuiker, gesif

Koek

Verhit oond tot 180 °C. Voer twee ronde koekpanne van 23 cm in deursnee met bakpapier uit en spuit deeglik met kleefwerende kossproei. Kook melk, botter en lemoenskil saam en laat afkoel tot louwarm. Klits suiker, eiers en eiergele in ’n groot mengbak tot lig en romerig. Sif meel, bakpoeier en sout saam en vou met ’n groot metaallepel by die eiermengsel in. Voeg afgekoelde melkmengsel by beslag en vou in. Klits die oorblywende eierwitte tot sagte punte vorm en vou dit saam met die papawersaad by die beslag in. Verdeel mengsel tussen die voorbereide panne en bak vir 30-35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Maak intussen die stroop.

Stroop

Kook suiker, water en botter saam vir 2-3 minute. Verwyder van hitte en voeg lemoensap by. Verdeel stroop tussen gaar koeke in panne en laat koek yskoud word in yskas.

Versiersel

Klits botter en roomkaas saam tot lig en romerig. Voeg versiersuiker by en klits goed. Keer eerste koeklaag uit op ’n dienbord en smeer helfte van die versiersel oor. Plaas tweede koek bo-op en smeer oorblywende versiersel oor. Sit voor.

’n Wêreld sonder suurlemoene? Geen lemoene meer nie? Nie eens ’n nartjieskil nie? As dit móét, kan ek leef sonder pomelo’s én lemmetjies, maar sonder my skattebol-sitrusvrug sien ek net ’n bleek bestaan.
Errieda du Toit, Huiskok