Selfs op die braambosheining van die bure langsaan kon ons staatmaak vir ’n gesonde draggie bessies - om oor ’n tert te strooi of sommer uit die vuis te eet. Ons statige ou appelboom, daarenteen, het stom gebly. Elke somer het ek vol afwagting in die takke opgeklouter op soek na ’n rondgedyde vrug of twee, en ieder maal moes ek onverrigter sake aardwaarts terugkeer. Op navraag sou my ma skouerophalend verduidelik dat die appelboom ’n maat kort om bevrug te raak. “Soos mense?” het ons ewe onskuldig aangepor. “Amper so,” het sy beaam.

Appels was van kleins af my gunsteling-vrug. Met herfs het ons ’n kis per spoor uit die Kaap ontvang - tamaaie groot, rooi knoetse wat ons kinders sorgvuldig met die blou sneespapier waarin hulle gewikkel was, moes blink poets voor hulle in ’n koperkom gepak is om in die verbygaan op te raap vir snoepkos. Op koue wintermiddae het Ma se broskors-appeltert met kaneel en rosyne die hele huis geparfumeer en het ons kleintjies kwylbek gewag vir die eerste, louwarm wiggie met yskoue plaasroom bedrup. ’n Varktjop in ’n goudbruin, bros krummeljas met baba-aartappeltjies en warm appelmoes was koningskos toe en nou; my eie kinders smul ook daaraan en vertolk hul ma se blinknat oë verkeerdelik as trots en nie die heimwee van nostalgie wat die gereg in haar laat opwel nie.

Gebakte appels is voorgesit met ’n vulsel van neute en rosyne, suiker en kaneel, met ’n bruin erdebeker vol dun, soet vanieljevla. Vandag rasper ek marsepein by of tuimel blokkies grofgekapte appel by dieselfde vulsel, strooi dit oor ’n gemmerbroskors en bak ’n aardse Italiaanse crostata di mele. My oupa kon ’n appel woertswarts met sy knipmes skil - ’n dun spiraal wat die vorm van die vrug momenteel behou het as hy dit voor jou neersit, om dan papierdun skyfies af te kerf en jou met die hand te voer. Heel, suurgroen Granny Smiths en blokkies krummelrige cheddar was kosblikmaats; by kerkbasaars het ons geneul vir gifrooi toffie-appels wat tande kon laat kraak. Ek bak heel appels saam met die geroosterde gans wat ek graag as Kersmaal voorsit. Of ek rooster dun skyfies appel oornag in ’n lae oond om in bros kepe in die Kersfees-ham staande te maak - ’n elegante krimpvark-gedoente om die feestafel te versier.

En as smulpaap-oordaad my die dag inhaal, is ’n vars, bros appeltjie op my nugter maag die aangewese regruk-ontbyt - óf dit, óf fyn gerasper oor rou hawermout met ’n skeppie sneeuwit Griekse jogurt en ambergoue heuning by. Bircher-muesli, noem die foendi’s dit. My eie teer gestel eggo agterna: Hoera!

Appels is saam met byna alles goed. Van seldery, bessies, kaas, botter en esdoringstroop tot rooiwyn kan ingespan word om appels van aards tot hemels te verhef. Dik skywe, sag gesoteer tot amper-karamel, met ongesoute botter en bruinsuiker tussen die pofsagte voue van ’n ryk, geel omelet is amper nagereg. Lig gestoof met speserye, asyn en brandrissies maak dit die heerlikste pikante blatjang. Tarte tatin, daardie legendariese onderstebo-tert, was een van my spysenieringstreffers, veral met dik geklopte vanieljeroom en ’n ruim skeut Calvados, oftewel appelbrandewyn.

In Parys het ek Bretonse dun bokwiet-crêpes ontdek, flink gebraai met Galliese flair by straatstalletjies en geheel voortreflik met ’n glasie yskoue appelsider daarby. Appels is terselfdertyd nederig en koningskos. Legendariese Britse top-sjef Marco Pierre White se sysagte, geysde appelsoufflé met Calvados het my sterre laat sien, maar my seuntjie en sy suster verkies ’n ryp blinkrooie, in die baadjiesak geprop met ’n hand vol okkerneute, as padkos.

’n Ou vriend dink met heimwee aan sy somervakansies kleintyd op ’n appelplaas op Elgin - hoe hulle ná ure se baljaar in die stowwerige boorde van die snikhete son ontsnap het deur in die soel pakhuise skuiling te gaan soek. Daar, in die koel skemerstilte, vertel hy, sou hy en sy maters elk ’n appel van die rak gaps (hoeveel skade kon vier kinders tog aan die opbrengs doen?) en dors sowel as honger stil. En die soet reuk van die appels, ’n ligte newel onthou hy, was vir hom ’n voorsmakie van die paradys self.