’n Bottel olyfolie maak haar meer opgewonde as ’n bottel parfuum. Want wanneer Barbara Joubert saans by die huis kom, skakel sy af van haar werk – deur te begin kos maak.

Haar terapie. “Kos praat nie terug nie,” vertel sy. Sy is van 2007 aan die stuur van SARIE KOS nadat sy sedert 2004 SARIE se kosredakteur was. “In my jong dae [sy is 51], toe ek mode-assistent en-stilis was, het modelle soms tantrums gegooi en dit was moeilik om hulle by ’n fotosessie te vervang. ’n Roketblaar raak net páp– en jy vervang dit met ’n vars een. Dis baie makliker!”

Barbara se innoverende idees is ’n sleutelrede hoekom SARIE KOS die topverkoper-kostydskrif in Suid-Afrika is. Sy en Herman Lensing (24), wat haar in 2009 as kosredakteur van SARIE opgevolg het, was pas te sien in nóg ’n eerste vir SARIE: ’n KOS-EXTRAVAGANZA, wat in samewerking met Checkers aangebied is.

By dié extravaganza (dis eintlik kosteater!) het Barbara en Herman hul resepte by twee eksklusiewe geleenthede in Kaapstad en Johannesburg op die verhoog gedeel, en hul geregte opgedis aan honderde vroue (en ja, dalk ook ’n hele paar mans) op ’n slag! En tussendeur is die gehoor vermaak deur topkunstenaars soos Nataniël.

Saans, glasie wyn in die hand, tower sy haar “Barbara-konkosies” op in haar en haar man, Emile (48), ’n skrywer en media-konsultant in die wynbedryf, se huis in Oranjezicht. Haar kinders is gaande daaroor en kan nie wag om te vra wat vir ete is nie.

Barbara het Nina (19), nou in haar gap-jaar, en die tweeling, Anya en Mia (15), leerders aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, van kleins af geleer: Kos is iets om te geniét, nie iets waarmee jy “net oorleef ” nie. Saam eet, aan tafel, is kuiertyd wanneer daar oor die dag se dinge gepraat word.

Dit herinner haar aan haar eie kinderjare in haar ouerhuis heel bo in Tamboerskloof. Haar ma, Rieta
Burgers, op haar dag redakteur van die tydskrif Women’s Value, en tevore ook hoof van promosies en assistentredakteur van SARIE, is in 2003 oorlede. Haar pa, Tom (83), is ’n bekende fotograaf en woon deesdae in Durbanville. Naweke het Rieta storms losgekook – lasagne, kerriehoender,
Karoo-lamskerrie. Geen kitskos of gaskoeldrank is toegelaat nie.

Barbara se twee susters, die aktrise Michele Burgers van Muizenberg en Anneke van Zyl, ’n advertensieghoeroe van Kaapstad, het nie dié passie by hul ma geërf nie. En in die week het Meisie Bosman, wat Barbara-hulle help grootmaak het en nou vir haar werk (sy’s al 42 jaar in die gesin), vir die kos gesorg.

Barbara onthou nostalgies hoe sy en haar ma, haar sielsgenoot met wie sy in hul latere lewe so lekker kon kuier, tydens haar grootwordjare op Saterdagoggende kos-inkopies gedoen het. Tot vandag toe is sy mal oor supermarkte. As sy oorsee is, is dit een van die eerste plekke wat sy besoek. Want net daar, in die supermark of deli, kry sy idees vir haar droomgeregte...

Die bekende kosfoendi Peter Veldsman, van 1975 tot 1992 kosredakteur van SARIE, en nou eienaar van die toprestaurant Emily’s in die Kaapse Waterfront, meen Barbara is ’n “geroepene”.

“Haar oë is vol verwondering, passie en drome oor sonryp tamaties, olywe en vars kruie. En dán verander die drome en neem gestalte aan in die praktiese, logiese Barbara,” meen Peter.

Emile dink dis ’n jammerte dat Barbara hardnekkig weier om skaapafval te kook, maar haar kookprosesse sorg vir vermaak en opvoeding in die huis, terwyl die eindprodukte opwindend en
stimulerend is.

“Die worshonde sukkel soms om speseryagtige geregte te waardeer, maar soos enige goeie kok weet, kan ons nie almal tevrede stel nie!”

Vir koskollega Herman is Barbara ’n ewe groot inspirasie. “Sy raak nóóit gestres nie en ek leer by haar oor die lewe en hoe om dinge 100% te geniet. Sy is my ma weg van die huis af. En sy raak saam met my opgewonde oor ’n idee. Ons kan ure saam droom.” Maar Barbara moes lank wag voor haar eie kosdrome waar geword het ...

Jou werkpaadjie het ’n interessante geskiedenis . . .

Eintlik wou ek ’n gr.1-onderwyseres word. Ná matriek in 1977 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, het ek drie jaar lank voedsel-en-kleretegnologie aan die Kaapse Technikon studeer. In 1981 het ek los werkies vir my pa in sy fotografie-ateljee gedoen – baie gekyk hoe hy kosfoto’s stileer. En ek het selfs ses rokke ontwerp vir die eertydse Mej.Wêreld, Margaret Gardiner, wat toe in Amerika gewoon het. In Mei 1982 was my suster Michele, wat toe in Londen aan ’n dramaskool gestudeer het, homesick en ek het tot einde November daar gaan kuier. Ek het my verkyk aan die deli’s in Londen en het Europa ingedrink. Einde 1982 het ek kosstilering vir my pa by ons huis gedoen. Kapok-aartappels is gebruik as “roomys” en skeerroom was “room” op foto’s. Vandag is dit totaal anders. Jy kan die kos van die foto’s af “eet”, so lewensgetrou is dit. En ek besluit toe, as ek dít kan doen, kan ek geld maak op my eie.

En toe begin jou kosmakery?

Ja, ek het B&B Catering in 1984 begin en dit tot 1987 bedryf. Laataande, hárde werk. Ek moes een keer vir veertig mense op ’n TV-produksie kos maak. Halaal, vegetaries, die hele lot – R5 per kop!
Ek was senuweeagtig, want ek was nie seker watter pad om te ry Constantia toe nie ...In my ou Passat ry ek toe – tot binne-in die stel waar hulle ’n toneel skiet! My ontwrigting van die verfilming was die volgende dag in die koerante. Daar was toe ’n paar krisisse, maar ek hou van probleme. Soos die keer toe ek ’n tienlaag-troukoek versier met blomme vir ’n bekende model gemaak het. Sy’t met ’n ryk Amerikaner getrou. Halfpad na die hotel begin die koek smelt. Daar aangekom, is ek in die koelkamer in waar ek dit met my hand “reggedruk” het, met die blomme as kamoeflering. Die vorm van die koek was heel anders, maar almal was tevrede.

Hoe het jy toe by tydskrifte beland?

In 1987 het Christelle Malan, die destydse moderedakteur, baie werk met ’n SARIE-modebylae gehad en my gevra om te help stileer. Haar assistent, Christine Hamman, het kort daarna bedank en ek het die werk gekry, teen R1 200 per maand. Met Nina se geboorte het ek bedank, maar ná ’n tyd as vryskutstilis het ek op ’n dag, terwyl ek aan ’n Duitse advertensie werk, besef: Wát
doen ek? Ek wil by ’n tydskrif werk. Daar was ’n pos as promosiestilis by SARIE, ek het aansoek gedoen en dit gekry.

Later is ek aangestel as fotoredakteur, maar ná my ma se dood het ek besef ek wil voltyds met kos werk. Kort daarna het SARIE se kosredakteur, Sonja Jordt, bedank.

En sedert 2004 is kos my voltydse loopbaan – die res is geskiedenis.

En jy was ook model op 18?

Annette Pienaar-Vosloo (toe Strydom) was destyds SARIE se moderedakteur en sy het my gevra
om af en toe modelwerk te doen. Ek wou weet hoe dit aan die ánder kant van die kamera voel, sodat ek kon weet hoe dit sou voel as jy werk met mense wat dáár staan. Maar ek moes skraal wees en dit het my weggehou van die lekker in die lewe, so dit het nie vir my gewerk nie. En eintlik is ek verskriklik skaam. Daar was ’n stigma aan modelle dat hulle “los” is. In daardie stadium het ek nog nie eens ’n enkele kêrel gehad nie.

Vandag is jy bekend vir jou aantreklike “seep-en-water”- voorkoms. Hou jy nie van grimering nie?

Ek dra grimering as ek uitgaan, maar as jy heeldag met kos werk, raak dit warm. En ek was my gesig die hele tyd. My hare is altyd vasgemaak, sodat dit nie onhigiënies in die kos hang nie. I ain’t no Nigella! Vir my gaan nie oor wimpers, gloss en krulhare nie, maar oor wat uit die pot kom en op
die bord beland.

Wat inspireer jou hartskos?

Kos moet mooi, maklik en geurig wees. Die koskenner Ina Paarman was een van my lektrises ná skool en het gesê ek is die luiste in die klas, want ek was altyd ’n uur voor die tyd klaar met die praktiese opdragte. Ek ken ál die kortpaaie! As daar ’n stoel is, sit ek, as daar ’n hyser is, ry ek (selfs een vloer), as daar ’n bed is, lê ek. En kos moet njammie lyk!

Ons moet kook met produkte wat in die seisoen beskikbaar is. Ek proe reeds ’n gereg voor dit gemaak is. Ek kook nie van ’n resep nie, maar ek kyk graag prentjies in resepteboeke. Voor ek saans aan die slaap raak, dink ek nog kosstories uit. Ek wens soms ek het ’n kassetspeler sodat ek
als kan opneem voor ek dit vergeet.

Hoekom speel die Karoo so ’n groot rol in jou kos-herinneringe?
Ek is op Beaufort-Wes gebore en het daar gewoon tot ek ses jaar oud was. Kersfees was daar altyd ’n bak vars pruime en beskuit op die tafel. Kos was sinoniem met kuier. Dit was nie iets wat jy in die hardloop gegryp het nie.

Toe ek en my susters op skool was, het ons baie wintervakansies by ons familie op die plaas Duneden net buite Beaufort-Wes gaan kuier. Ek het altyd gekyk hoe hulle geslag het. Als, behalwe hoe hulle die keel afgesny het! Ek is baie lief vir die Karoo.

Dink jy aan jouself as ’n celeb?

Jy raak nie sommer ’n celeb in Suid-Afrika nie. Jy raak wel bekénd vir die SARIE-leser. Dis vir my steeds vreemd dat mense sê hulle wil “Barbara se resepte”maak. Iemand het my al in die supermark voorgekeer en toe moes ek saam met haar inkopies doen, maar ek beskou myself glad nie as beroemd nie.

En ek wil hóégenaamd nie ’n TV kook-celeb word nie.

Wat was jou opwindendste kosprojek?

My eerste kookboek, SARIE 5 (Human & Rousseau), wat ek in 2006 saam met die Kaapse fotograaf Micky Hoyle aangepak het.

Ons het tien geregte per dag geskiet. Ek weet nie wáár ek die energie gekry het nie! Die konsep van die boek is dat jy net vyf of minder bestanddele per resep nodig het. Baie mense sê dít het hulle laat kook.

Wat beteken al jou toekennings vir jou?

As daar ’n tjekkie by is, is dit fantasties, maar ek skryf nie stories vir pryse nie.My beste prys is as mense sê hulle hou van my resepte. En dis natuurlik lekker om erkenning te kry vir jou werk.

Waar in die wêreld het jy die lekkerste nóg geëet?

Op ’n stasie in Parys – ’n croissant en sterk koffie – ná ’n paar dae se ryk eet in Venesië. Dis presies wat ek nodig gehad het. Daardie eenvoud.

Hoe versoen jy ma-wees met jou beroep?
My kinders kom altyd eerste. Dit was moeilik toe hulle klein was, maar ek het geen keuse gehad nie, ek moes drie maande ná Nina se geboorte begin werk.

Ek voel nie skuldig omdat ek werk nie. Ek dink baie ma’s is geïrriteerd omdat hulle die hele dag by die huis sit. Ek is ’n beter ma as ek saans terugkom by die huis. Ek glo jy moet steeds ’n loopbaan hê, selfs al is jy so gelukkig om ’n ryk man te trou en jy hoef nie te werk nie.

Vertel ons van jou ander groot “verslawing”.

Blokkiesraaisels. Dit hou my kop besig. Soms sit ek tot twee-uur op ’n Saterdag in my pajamas en vul in. Huisgenoot, Die Burger en Rapport s’n. En ek ontdek wonderlike woorde.

Ons lesers vra vir Barbara vrae:

Reinhold du Randt, Pearston: Hoekom is wildsvleis sagter as mak diere s’n?

B: Wild is vry, minder gestres. Dit word boonop gemarineer in karringmelk, rooiwyn of asyn, wat
die vleis baie sag maak. En as jy ’n pastei maak, kook dit baie lank en stadig en dit maak dit ekstra sag.

Hanlie Sheridan, Bellville: Wat is jou gunsteling-restaurant?

B: Diaz Tavern, ’n onpretensieuse Portugese eetplek in Kaapstad. Die TV is aan, daar hang landsvlae, daar’s ’n kroeg en die kelners werk al jare daar. Maar die eienaar maak ’n geheime wondersous wat jy kan koop (in ’n wynbottel) en hy gooi dit oor alles. En daar is die beste tjips op die dorp! (Caledonstraat 15, Kaapstad, 021 465 7547.)

Belinda van der Merwe, Centurion: Het jou dogters jou passie vir kook geërf?


B:
Mia is haar pa se kind. Sy hou van lees en tale. Nina en Anya hou van kook en bak. Maar al drie is
mál oor lekker eet.


Marina du Plessis van Kareedouw: My grootste uitdaging is om my span karnivore aan groente te laat smul. Wat is jou raad?


B:
Sny ’n botterskorsie in die helfte, pitte verwyder, met ’n bietjie peper en ’n klein bietjie botter, toegedraai in foelie (die kinders kan help!), sit dit bo-op die rooster. Dit word só sag, jy eet dit skil en al.Eenvoudiger kry jy nie.

Corlie Schoeman, Pretoria: Sonder watter bestanddele kan jy nié kook nie?


B:
Botter, room, knoffel, suurlemoen en natuurlik wyn. Partykeer beland die wyn selfs in die kos!

Barbara het die volgende toekennings vir SARIE KOS losgeslaan:

2009

  • Media24-prys Beste Spesialisredakteur
  • Media24-prys Innovasie
  • Pica Beste Nuwe Tydskrif in Suid-Afrika
  • AdMag Beste Leefstyl-tydskrif in Suid-Afrika, Beste Nuwe Tydskrif, Beste Afrikaanse Tydskrif
  • Galliova-prys Beste Kosskrywer in Suid-Afrika
  • Niel Hammann/Media24- toekenning Joernalistieke Uitnemendheid

2010

  • Pica Beste Spesialis-uitgawe van die Jaar (SARIE KOS vir mans)
  • Media24-pryse vir Uitnemendheid Beste Voorblad, Beste Handelsmerkuitbreiding, Trots SA

Kyk na Barbara se foto-album in die galery