MOENIE JOU EIE KOP VOLG NIE:

Jy is so lief vir jou hond, jy kook selfs spesiaal vir hom kos. Maar al sit jy hope liefde daarin, het dit heel moontlik nie die regte en genoeg voedingstowwe nie. Tot 96% van tuisgemaakte hondekos kan sleg wees vir jou viervoetige kind se gesondheid, is in ’n studie in die Journal of the American Veterinary Medical Association bevind. Meer as 200 resepte in hoog aangeskrewe veeartseny-teksboeke en van troeteldiervoedingkundiges en verwante bronne is geanaliseer. Daarvan het 191 nie die paal gehaal nie. Dis veral die balans van voedingstowwe wat belangrik is, sê dr. Ingrid de Wet, hoofveearts en mede-eienaar van die EberVet Country Animal Clinic op Somerset-Wes. In nog ’n studie deur Brasiliaanse navorsers is troeteldier-“ouers” gevra om hondekos volgens ’n resep te maak. Selfs al was die resepte goed saamgestel, het die deelnemers aan die studie meestal nie die instruksies noukeurig genoeg gevolg om ’n gesonde maaltyd vir hul hond voor te sit nie, is bevind.

  • Gebruik ’n goeie resep, saamgestel deur ’n troeteldiervoedingkundige. As jou woef ’n gesondheidsprobleem het, moet hy dalk ’n spesiale dieet volg.
  • Onthou dat verskillende rasse en ouderdomme se voedingsbehoeftes verskil. Só het ’n tienjarige Yorkshireterriër ’n ander dieet nodig as ’n driejarige Deense hond. Dis veral belangrik om die vlakke van proteïen, kalsium en fosfaat reg te balanseer, volgens dr. De Wet. Volg die resep noukeurig, moenie eksperimenteer nie. As die resep sê verwyder die hoendervel en jy los dit aan, gaan dit die voedingkundige profiel verander.
  • Kook alle hondekos om bakterieë te vernietig wat jou dierevriend siek kan maak. “Ons sien baie siektes van die spysverteringstelsel sowel as inwendige parasiet-probleme weens rou diëte,” volgens dr. De Wet. Kook grane, bone en styselgroentes sodat dit makliker verteer.

Nog bronne: petwebmd.com, American Animal Hospital Association (www.aaha.org)

ONTHOU! Troeteldiere is baie kleiner as mense, dus moet hul bederwe ook kleiner wees as wat ons sal eet. Wanneer jy jou beste vriend bederf, maak seker dat jy in ag neem dat jou troeteldier in dié tyd van inperking miskien minder energie gaan verbrand as gewoonlik. Hou dis bederf-happies matig en vir spesiale geleenthede.

Maak 'n boeretuin vir hond of kat
Maak 'n boeretuin vir hond of kat FOTO Unsplash

VERMY DÍT:

  • XYLITOL: Dié kunsmatige versoeter is baie giftig vir honde, selfs in klein hoeveelhede. Dit kom as versoeter in baie produkte voor, bestudeer dus die etiket.
  • SJOKOLADE, KOFFIE EN KAFEÏEN: Hoe donkerder die sjokolade, hoe gevaarliker. Witsjokolade is die minste gevaarlik en baksjokolade die meeste.
  • ROSYNE EN DRUIWE: Dit kan nierversaking by sommige diere veroorsaak.
  • UIE: Dis lekker vir jou hond, maar baie daarvan (ook uiepoeier) kan veranderinge in rooibloedselle en anemie (bloedarmoede) veroorsaak. Los ook die knoffel en grasuie.
  • NEUTE bevat baie olie en vet, wat onder meer vomering en diarree kan veroorsaak.
  • Gebruik bitter min SOUT, indien enige. Groot hoeveelhede kan tot oormatige dors en urinering lei, of selfs natrium-ioon-vergiftiging. Dis veral belangrik om op te let by honde met hart- of nierprobleme, volgens dr. De Wet.
  • Honde wat gereeld groot hoeveelhede SUIKER eet, se kans op vetsug, tandprobleme en diabetes vergroot.
  • ALKOHOL kry ’n groot nee!
  • MELK: Nadat ’n hond gespeen is, sukkel hy om melk te verteer en dit kan diarree veroorsaak.
  • BENE: “Te veel diere raak siek van bene. Jou hond kan selfs doodgaan as dit in die derms of maag vassit,” sê dr. De Wet.

Nog bronne: petwebmd.com, www.aspca.org

GEBRUIK DÍT MAAR:

  • JOGURT: Die probiotika daarin is goed vir sy spysvertering. SALM: Die omega 3-vetsure hou sy pels blink en gesond.
  • EIERS (gaar): Dit bevat proteïen en ander gesonde voedingstowwe.
  • GAAR WITRYS OF PASTA: Witrys met opgekookte hoender kan hom beter laat voel as sy maag omgekrap is.
  • MAER VLEIS wat goed gekook is: Verwyder alle sigbare vet, insluitend pluimvee se vel. Ook alle bene.
  • HAWERMOUT: Dis ’n goeie bron van oplosbare vesel, voordelig vir ouer honde met vaste mae.
  • PYPKANEEL: Kan gewrigspyne weens artritis help verminder. Ook uitstekend vir bloedsuikerbeheer en cholesterolvlakke.
  • PIETERSIELIE: Sit op kos om sy draak-asem vars te hou.

Nog bronne: University Animal Hospital (universityvet.com), petwebmd.com

ONS GEE OM VIR HONDE:

Alle resepte is deur dr. Ingrid de Wet, veearts van die EberVet Country Animal Clinic op Somerset-Wes, nagegaan om seker te maak Wagter eet kos wat goed is vir hom. Kontak 021 851 1500 as jy enige vrae het. 

Koekies vir jou hond
Koekies vir jou hond FOTO Donna Lewis

RESEP: TUISGEBAKTE KOEKIES

Ek bak gereeld dié koekies vir my honde. Lees die etiket en sorg dat jy suikervrye grondboontjiebotter, wat ook geen versoeters bevat nie, gebruik. En onthou, nie meer as een koekie per dag nie! 

Klik hier vir die resep

VIR ’N LEKKER HAPPIE:

  • Die meeste vrugte, waaronder appels, pere en piesangs, is geskik. Hou die porsies klein, want dit kan sy maag omkrap en groot hoeveelhede kan diabetes veroorsaak, volgens dr. De Wet. Verwyder pitte, stingels en blare.
  • Groente: Ja, vir onder meer wortelstokkies, groenbone en murgpampoentjie-skywe. Dis gesonder gestoof en gekook, aangesien Wagter nie soveel voedingswaarde uit rou groente kry nie. “Rou groente kan hom egter besig hou en help om sy behoefte aan kou te bevredig,” sê dr. De Wet.

Nog bronne: American Kennel Club (www.akc.org), petwebmd.com

Hoender-en-rys vir jou hond
Hoender-en-rys vir jou hond FOTO Donna Lewis

RESEP: HOENDER-EN-RYS

Dit klink dalk nie na die lekkerste maal op aarde nie, maar ek kan jou waarborg jou brak gaan dit terdeë geniet. Hierdie is sagte kos wat nie elke dag voorgesit moet word nie, want te veel sagte kos kan lei tot tandbederf by honde. Kies so een dag elke maand waarop jy jou hond wil bederf. Niks onnodigs is by die resep gevoeg om die kos te rek nie, dis suiwer en gesond.

Klik hier vir die resep

Verjaarsdagkoek vir jou hond
Verjaarsdagkoek vir jou hond FOTO Donna Lewis

RESEP: WAGTER VERJAAR!

My honde is my alles, en ja, ek vier ook hul verjaardag. Maar nie sommer met enige koek nie, nee, dis ’n baie gesonde groentebelaaide bederf. 

Klik hier vir die resep

FOTO Donna Lewis
FOTO Donna Lewis

HIER RUS MY LYF

Vanilla die labrador is lief vir haar bed. So ons het besluit om een te maak wat stylvol en hoogmode is! Maak só: Koop ’n laaibord by jou plaaslike ysterwarewinkel en skuur die kante en hoeke om van splinters ontslae te raak. Verf laaibord in die kleur van jou keuse – ons het 101-6 Southwest Magic van Duram gebruik. Laat droog word. Boor aan die onderkant van al vier hoeke gate en gebruik gordynstokke se endversierings as pote – verf dit swart of in enige kleur van jou keuse. Laat sny spons die grootte van die laaibord en maak ’n kussingsloop met diermotiewe (ons s’n is 1,2 m by 1 m). En siedaar!

Maak 'n jas vir jou brak
Maak 'n jas vir jou brak FOTO Donna Lewis

JAS VIR BRAK

Ons kry inspirasie vir ons hondejassie van die klassieke Burberry-jas, want wie wil nie mooi lyk in die herfs nie! Een van SARIE se dekor-redakteurs Anita Rossouw wys hoe.

Klik hier vir die patroon