Op die Britse Eilande kóók dit behoorlik in die kospotte. Dit was nie altyd só nie. Ek onthou goed hoe ons ma’s en oumas neusoptrekkerig vertel het dat die Engelse alles in water opkook.

Alles was darem nie “bland” nie. Ons maak skons, hawermoutpap en -koekies soos die Skotte. Vis en tjips is deel van elke plaaslike gemeenskap, terwyl gebraaide beesvleis, yorkshire-poeding en bief Wellington dikwels Sondagtafels kroon. Aarbeie en roomys, met of sonder meringues maar altyd met room, is nie net ’n Wimbledonse instelling nie. En wat van ’n vrugte-fool- en sticky toffee-poeding en aanklam- (tipsy) en Bakewell-tert en komkommertoebroodjies en gerookte salm op ligte rogbrood? Jy moet saamstem: Ons het heelwat oorgeneem – ten goede!

Danksy Jamie Oliver, Nigella Lawson en Nigel Slater ervaar Brittanje deesdae ongekende koshoogtepunte. Dwarsoor die land is daar ‘n soeke na gehalte-plaasproduksie – veral organiese produkte. Eetplekke het grensloos verbeter en ’n reis deur die Britse landskap openbaar ’n evolusie, nee, eerder ’n ontploffing van nuwe seggingskrag. Beste van alles: Ons kan, danksy die BBC en ons eie kosskrywers, deel wees daarvan. –      PETER VELDSMAN

Dek jou tafel só . . .

Dit was Brittanje se jaar met die olimpiese Spele en die koningin se jubileumviering. kuier saam met die Britte in ’n snoesige “kroegie” in jou huis. Verf die Britse vlag op die tafel. Verf ou stoele wit, blou en rooi. Die plekmatjies is ‘n klein skryfbordjie by elke gas se sitplek. Skryf jou spyskaart daarop en plaas ‘n bord bo-op. koop rooi en blou servette van ruitjiespapier en wissel dit af by die gedekte plekke. Koop ook varkvleispasteitjies by jou supermark en sit een op elke servet. Maak Britse vlaggies – kry die vlaggies op die internet – en plak dit op sosatiestokkies. Skryf jou gaste se name op en druk dit in die pasteitjies. koop groot speelkaarte by ’n Chinese winkel en gebruik dit as drupmatjie onder die glase en bottels.

Spyskaart

6 porsies

Peuselhappie

Paprika-aartappelwiggies

Hoofgereg – keuse van2

Oondgebraaide varkworsies met gebraaide uieringe en kapokaartappels

Gebakte vis

Nagereg

Roomys en sjokoladesous