Hoe het jy jou onderneming begin?

My ouers het vir my geld gegee om ná die matriekeindeksamen te gaan naweek hou, maar toe gebruik ek dit om my eerste tafel by ’n mark te huur en bakbestanddele te koop. Ek het altyd geweet ek wil iets skeppends doen en was nog altyd mal daaroor om te vas te stel waarom sekere goed gebeur en hoe sekere goed werk. Ná matriek het ek ’n jaar afgevat sodat ek rustig tussen ingenieurswese en argitektuur kon kies. Uiteindelik het ek besluit om my passie vir voedsel met wetenskap te kombineer. Nou is ek besig met B.Sc. Voedselwetenskap (chemie) by die Universiteit Stellenbosch en ek maak einde volgende jaar klaar (honneurs ingesluit).

Is dit moeilik om aan die een kant te swot en terselfdertyd ’n bakkery aan die gang te hou?

My kursus is taamlik “stewig”. Om my meer tyd vir studeer te gee het ek nou ’n voltydse fyngebak-sjef, Linda Machinganca, aangestel. My ma, Renette Labuschagne – ons is van Somerset-Wes – help ook met die verkope.

Vanwaar jou liefde vir kos en sjokolade?

Ek is van kleins af lief vir soetgoed. Op vyf het ek my ma se pannekoek klaar gebak as sy ’n foonoproep

gekry het. Sjokolade is vir my ongelooflik om mee te werk omdat ’n mens selfs nagereg kan skep wat nie te soet is nie, maar steeds baie satisfaction gee. Daar is net mooi niks wat met sjokolade vergelyk kan word nie.

Waarom het jy op brownies besluit?

Ek het met ’n verskeidenheid produkte begin – van sjokolade-truffels, brosbrood-balletjies met sjokolade

en haselneute tot koringvlokkie- en malvalekker-koekies. Saterdae het ek die produkte by die Slowmarket/Vars Goed Mark in Willowbridge, Durbanville, verkoop. Die brownies was die gewildste. Yummi is nou drie jaar aan die gang.

Hoeveel soorte brownies maak jy?

Twaalf verskillende soorte. Daar is altyd agt variasies by die markte, en die res kan bestel word. Die gewildste is die makadamia-brownie, gianduja (sjokolade-haselneut), dulce de leche (Argentynse melk-karamel), tiramisu en die witsjokolade-nougat-brownie. My gunsteling is gianduja – haselneute word gerooster en verwerk tot dit ’n haselneutbotter vorm wat gemeng word met 72%-donkersjokolade.

Hoe lank het dit geneem om die perfekte brownie te skep?

Dit is ’n voortdurende groeiproses. Dit kan nooit perfek wees nie, maar ’n mens kan altyd daarna streef om dit perfek te kry. Namate die besigheid groei, word veranderinge gemaak. Deesdae gebruik ek 72%-donkersjokolade van gehalte. Onlangs het ek oorgeskakel na glutenvrye meel. Ek gebruik ’n mengsel van rys- en tapioka-meel. Dit gee die brownie ’n baie fyner, meer delikate tekstuur. Dit is ook veilig vir mense wat glutenintolerant is. ’n Groot bonus! Die tegniek is uiters belangrik. Ek pas my kennis van voedselwetenskap toe om dit heeltyd te verbeter, maar dis my geheim.

Maak jy ook ander eetgoed?

Ek bestee baie tyd om nuwe produkte te ontwikkel en verkoop ook Franse macarons. Dit hou my soms

tot vieruur soggens besig. ’n Hele paar geure is beskikbaar, waarvan my gunsteling die koffie-crème-brûlée-macaron en die pistasieneut met gekaramelliseerde witsjokolade is. My doel met die macarons is om geen kleursels en nagemaakte geursels te gebruik nie.

Waar kan ons dit koop?

Die brownies en macarons is elke Saterdag by die Stellenbosch Slowmarket se varsgoedmark en ook by Willowbridge se mark te koop. Verskeie koffiewinkels op Stellenbosch en in Bellville verkoop dit ook. Tans onderhandel ek met winkels in Kaapstad oor die verspreiding. Ons (ek en my ma) neem ook deel aan al die groot kosbyeenkomste soos Good Food & Wine Show, kaas-en-wyn-feeste, Taste of Cape Town en Kamers vol geskenke. Ek is altyd op my sel by 082 336 4963 beskikbaar. Kyk ook by www.yummichef.com.

Wat is die geheim van die Yummi-brownie?

Die sjokolade is uiters belangrik. Dit is waaroor die Yummi-brownie gaan. Enigiemand wat al die brownie

geproe het, sal verstaan. Hoe beter die gehalte van die sjokolade wat jy gebruik, hoe lekkerder die brownie. Ek gebruik sjokolade van die plaaslike Chocolates by Tomes en meestal 72%-Couverture (meer kakaobotter as gewoonlik).

Enige toekomsplanne?

Waarskynlik ’n groter bakkery. Ek beoog om brownies en ander nageregte aan restaurante te verskaf. Ek sal baie graag my eie winkel wil hê, soortgelyk aan ’n Franse patisserie [fyngebakwinkel], en ek wil onder meer eksperimenteer met minder algemene geurkombinasies. Gehalte is een van die belangrikste kenmerke van Yummi en dit sal nooit afgeskeep word nie. Daar is nog ’n paar idees, maar ek hou dit as ’n verrassing vir wanneer my kursus klaar is.