Dis Maandag vroegoggend en my ontspanne ingesteldheid van die naweek verander in ’n ommesientjie in woede op die snelweë. Met ’n swaar gemoed verruil ek my bed vir ’n harde stoel in ’n koue, vaal, grys kantoor.

Met die wete dat ek nog vyf dae hier vasgevang is, probeer ek myself altyd motiveer deur ’n wortel voor my neus te hou. Wel, nou nie juis ’n wortel nie ... ek eet al 10:00 aan ’n sjokolade wat ek skelm in my lessenaar se laai wegsteek.

Ja, daar is ’n sekere verlange na die nabyheid van my yskas by die huis en, ja, ek sit soms voor die rekenaar en dagdroom oor Sondagmiddag se room-aartappelgereg, maar daar is tog ’n rede vir my eetgewoontes op ’n Maandag. Die sogenaamde happy foods bevat bestanddele wat medies bewys is om jou in ’n gelukkige bui te kry. My donkersjokolade in die laai val in dié lysie.

Alhoewel sommige mense voorstel dat kosse soos beetspinasie (Swiss chard) ook ‘n happy food is, laat ek my nie vertel dat dié blarerige bok-kos my enigsins gelukkig kan maak nie. Daarom moet ek vra, wat sal my én my palet gelukkig maak? So maak mens:

[box:full:red:both]

Eet eier vir ontbyt

Moet nou nie ’n hardgekookte eier maak met die blou randjie wat Ouma altyd vir padkos gemaak het nie, maak lekker romerige roereier of probeer Barbara se Eier Florentine.

Egg florentine

Hou Brasiliaanse neute byderhand

As jy voor etenstyd weer wil knibbel aan ’n ietsie, eet ’n hand vol Brasiliaanse neute (30 g). Dit bevat seleen (selenium) wat vry radikale beveg, asook angstigheid, depressie en prikkelbaarheid.

Salmslaai

Maak vir middagete ’n slaai met salm. Hierdie "goeie vette" laat jou vinnig goed voel. (Lees Mariza se blog oor die redes waarom jy móét vet eet vir gewigsverlies!)

Salm wraps

Vir iets om te eet terwyl jy rondhardloop by die werk, kan jy reeds die vorige aand SARIE se Geblikte salm-wrapmaak.

Donkersjokolade

Die lekkerste item van al die happy foods kan so skuins voor 16:00 geniet word, wanneer die dag by die werk net té lank raak. Onthou om minstens 70%-donkersjokolade te eet. Herman se sjokoladepatee is perfek hiervoor!

Sjokolade patee

Onthou-kos

Alhoewel dit nie op die happy foods-lys is nie, kan ek jou verseker dat niks jou so goed laat voel soos die gunsteling-dis wat Ma of Ouma altyd gemaak het nie. Die goeie herinneringe wat daarmee gekoester word, laat sommer jou hart ook goed voel.

[/box]

Lekker eet, tot volgende keer!

Klits-en-klets-kok

Liezl

Volg my ook nou hier en kook saam:Twitter: @KlitsenKletsKokFacebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok