1. NOSTALGIES NÓÚ:

Nostalgie kom in verskeie vorms en elkeen se ervaring daarvan is anders. Een van die groot nuwe tendense is nou-stalgie (nowstalgia). Dit word beskryf as ’n gevoel wat jy nou ervaar en vasvang, omdat jy weet jy gaan jare van nou met nostalgie daaraan kan terugdink. As dit by kos kom, probeer al hoe meer restaurante ervarings skep wat jou laat hunker na gister, maar jou ook toelaat om die herinnering te koester vir die toekoms. Dis dus nie net ’n vlietende oomblik nie. Dink aan ou klassieke geregte uit jou ouma se kombuis, voorgesit op ’n manier wat emosie ontlok. 

Probeer: Peppermint Crisp-tertroomys

Pepermint Crisp-tert-roomys
Pepermint Crisp-tert-roomys FOTO Michael le Grange

2. MINDER ALKOHOL

Net soos ons van ons planeet se welstand bewus word, raak dit vir mense belangriker om gesond te lewe. Een manier en een van die vinnigs groeiende tendense is om minder alkohol te gebruik. Stap jy deesdae deur die supermark-rakke, sien jy laeralkohol-wyne, ’n groot verskeidenheid alkoholvrye bier, asook al hoe meer mengeldrankies soos jenewer-en-tonikum sonder alkohol. Minder alkohol beteken nie dat jy nie sosiaal kan verkeer nie, dis mos goeie geselskap wat tel. Hou jou glas vol met goeie geure! 

Probeer: Komkommer-en-kruisement-bruisdrankie

Komkommer-en-kruisement-bruisdrankie
Komkommer-en-kruisement-bruisdrankie FOTO Michael le Grange

3. DIE 1920’S MAAK ’N TERUGKEER 

Ons omarm al die kitch en retro kostendense van die 1920’s! Nie net op spyskaarte nie, maar ook in jou kombuis. Groot handelsname soos Smeg en Kitchen Aid is reeds bekend vir hul kleurryke yskaste en kombuistoebehore met nostalgiese ontwerpe. Op die spyskaart? Dink aan slaaie vol kleur, gevulde eiers en natuurlik genoeg jazzmusiek! En jy kan gerus weer jou coupe-vonkelwynglase vir heildronke nader trek – daai vlak, wye, ronde een.

Probeer: Moderne gevulde eiers

Moderne gevulde eiers
Moderne gevulde eiers FOTO Michael le Grange

4. PLANTPROTEÏENE

Deel van die groter bewustheid oor ons planeet se welstand is die eet van minder diereproteïene en meer plantgebaseerde proteïene. Bronne is peulgewasse soos kekerertjies en bone, asook grane soos quinoa, gort en selfs koring. Hierdie manier van eet beteken nie jy hoef nooit weer vleis te eet nie, net minder. Glo my, jy kan net so lekker smul aan grane so een of twee keer ’n week.

Probeer: Bone-en-graanslaai met lemoensous

Bone-en-graanslaai met lemoensous
Bone-en-graanslaai met lemoensous FOTO Michael le Grange

5. KWALITEIT EERDER AS KWANTITEIT

Al knyp die ekonomie, meen kenners dié uitkyk is een van die grootste nuwe tendense. Wanneer dit by kos kom, glo ek al baie lank ons moet minder bestanddele gebruik, maar seker maak ons gebruik die beste wat ons kan bekostig. Bederf jouself en geliefdes met heerlike geure wat ’n bietjie duurder is, maar nie verdwyn tussen ’n klomp ander bestanddele nie. Geure soos truffel (lees meer in SARIE KOS Lente hieroor), saffraan, vanielje en selfs suiwer rooswater is alles duurder geurmiddels, maar geure wat groot impak maak. 

Probeer: Truffel-en-bokmelkkaasbrood

Truffel-en-bokmelkkaas-brood
Truffel-en-bokmelkkaas-brood FOTO Michael le Grange