*Hierdie aritkel het oorspronklik in SARIE KOS Lente 2017 verskyn en is onverwerk op die web geplaas. 

produksie: HERMAN LENSING & FANIE CRONJÉ foto's: MICHAEL LE GRANGE grimering: LYN KENNEDY teks: LYDIA VAN DER MERWE 

1. “Dis moeilike tye, als is duur. Kan jy familie/vriende nooi vir ’n Kersete, ’n spyskaart opstel en elkeen ’n resep gee om te maak?”

NATANIËL “Ek gril my dood, maar jy kan. Etiket is gebaseer op drie dinge: respek, gemak en logika. Binne ’n vriendekring/familie behoort kommunikasie goed en gemaklik genoeg te wees om saam te besluit hóé ’n geleentheid aangepak gaan word. Dit verskil van familie tot familie, elkeen het sy eie kultuur of band. Ek verkies om alles self te doen; ek hou daarvan om elke detail van ’n groot geleentheid self te reël. Ander hou daarvan om as groep te werk. Kies die pad wat die minste wrywing gaan veroorsaak.”

FOTO Michael le Grange
FOTO Michael le Grange

2. “Ek word genooi vir ’n aansit-ete, wat trek ek aan? Is my glitter en tiara oukei? En ’n mooi sweetpak en Crocs vir braaivleis?”

NATANIËL “Dis heerlik om in jou privaatheid rond te sluip in afgryslike los gewade, stokou hemde of die duiwel se skoene. Maar wanneer jy in geselskap is, is jy in jou beste klere, formeel of informeel. Blink goed is pret en deesdae deel van dagdrag, maar hopelik deur ’n goeie ontwerper op die regte manier gebruik. Aanddrag kan nie by ’n ander geleentheid diens doen nie. Formeel beteken ook nie noodwendig aanddrag nie. Dit word aangedui deur die internasionale term black tie (mans in pakke, vroue in kort of lang rokke), of white tie (mans in manelpakke, vroue in lang aandrokke). Die tiara: Met die uitsondering van die enkele lewende adellikes op aarde, verskyn jy nooit aan tafel met iets op jou kop nie, jy is nie ’n posbus nie. ’n Hoed is toelaatbaar by ’n dagfunksie in die buitelug.”

FOTO Michael le Grange
FOTO Michael le Grange

3. “My millenniër-kind en haar vriende glo almal betaal vir hom/haarself en almal kuier lekker saam. Want ons het almal ewe min geld. Ek glo dis nie etiket nie. As jy mense nooi, betaal jy.”

NATANIËL “Dit hang af. Daar is die geleentheid wat almal saam aanbied, waar vooraf op ’n bedrag besluit word en almal dra by. En daar is die geleentheid met ’n gasheer of gasvrou wat dan vir als betaal. Ek gee nie om watse neigings daar is nie, as jy dié twee situasies meng of verwar, is daar altyd moeilikheid. Ek hoor daagliks van mense wat óf woedend is omdat hulle moet betaal en dan nog geskenke ook moet bring, óf omdat niemand iets bygedra het nie. Watter besluit ook al in ’n familie of intieme vriendekring geneem word, is goed. Dis die kommunikasie vooraf wat kortkom.”

4. “Bring ’n geskenk, dan gooi ons dit op ’n hoop en trek lootjies. Ál meer mense doen dit só. Nou doen ek oneindig moeite, maar kry altyd die lamlendigste geskenk. Wat beveel jy aan?” 

NATANIËL “Ek was jare gelede by ’n geleentheid waar so iets probeer is. Ek vermoed dit het sonder ’n oorlog geëindig net omdat almal stormdronk was. Dis twak en ’n mors van geld. Min mense het werklik verbeelding, of doen moeite om aan iets te dink wat almal kan gebruik. Vir my is die lekkerste deel van geskenke gee die soektog en beplanning vooraf, maar ek het al geleer dis nie vir almal ’n plesier nie. As jy wel die R100- of R200-roete wil stap, laat almal die bedrag in ’n houer plaas en skenk dit aan liefdadigheid. Of los (anoniem) voor die deur van ’n huis waar daar probleme is.” 

FOTO Michael le Grange
FOTO Michael le Grange

5. “Is daar nog plek vir ’n gedekte tafel met al die trimmings en dinge?”

NATANIËL “Dek die tafel soos jy dink is goed. Leef jou drome uit. En as jy klaar is, haal minstens twee goed weer af. Die oordadige tafel is lankal verby. Ons het asem nodig, gaste moet ontspan en die geselskap geniet. Daar word nog nagmerries op TV en in tydskrifte gesien, want ’n eenvoudiger tafel fotografeer net nie mooi nie. En dan is daar troues met tafels wat lyk asof almal op aarde se besittings daarop uitgepak is, maar daai oorlog gaan ons nooit wen nie, die stomme bruid droom al van kleins af. ’n Tafel het net die volgende nodig: ’n baie mooi, verkieslik wit en lang tafeldoek, eetgerei, glase, kerse, iets vars soos blomme of kruie, iets persoonliks en iets onverwags. En jy’s klaar.”

6. “Kan ek vra dat my vriende hul selfone by die deur in ’n mandjie gooi as ek hulle vir ete nooi?”

NATANIËL “Ek dank elke dag die engele dat ek ’n vriendekring het waar ’n selfoon nooit in ’n geselskap verskyn nie. Behalwe as daar ’n krisis of vooraf gereëlde oproep is. Dan maak jy verskoning en verlaat die vertrek. ’n Lastige selfoon is ’n teken van onsekerheid, mense wil belangrik of besig voel, hulle besef nie hulle is vasgegroei aan die euwel nie. Ander glo hulle moet bly klou, dis hoe die Kardashians hul fortuin verdien. Dit bly pateties. As jy jou ophou met sulke mense, nooi hulle vriendelik maar duidelik vir ’n selfoon-lose kuier.” 

FOTO Michael le Grange
FOTO Michael le Grange

7. “Die moderne manier om dankie te sê, per e-pos, SMS, WhatsApp of telefoon, is dit aanvaarbaar? Is ’n handgeskrewe briefie totaal uit die oude doos? En as ek by die deur dankie gesê het, moet ek môreoggend weer bel?”

NATANIËL “Solank jy dankie sê, is dit al wat saak maak. ’n Handgeskrewe brief of kaartjie is ’n weelde wat mense soos ek ongelooflik waardeer. Maar ’n SMS of oproep is ook in die haak. As jy reeds met jou vertrek jou gasheer en/of gasvrou bedank het, maar die volgende dag weer wil dankie sê, doen dit. Veral ná ’n besonderse geleentheid. Die wêreld smag na goeie gesindheid.”

8. “Is ek verantwoordelik dat my lekkerlyf-vriende veilig by die huis kom as ek hulle vir ete nooi?”

NATANIËL “Nee. Almal wat ek ken wat weet hulle gaan in oordaad fuif, tref self vooraf reëlings. Daar is wel die paar wat nooit hul perke ken nie. As dit jou werklik pla, reël vir hulle vervoer. Of, selfs beter, nooi ander mense.”