Bertus Basson se kulinêre prestasies is so indrukwekkend soos sy Mohawk-kuif. Nie net kook hy al van sy tienerjare af professioneel nie, dié Suid-Afrikaanse kos-ambassadeur het boonop al internasionaal meegeding as lid van die Nasionale Olimpiese kulinêre span.

Hy het beslis hoë-oktaan-kos nodig, in ag genome sy vele ysters in die vuur. Hy is sjef en mede-eienaar van die befaamde Overture-restaurant op die plaas Hidden Valley by Stellenbosch, én hy is vennoot in Sofia's, 'n bistro-eetplek op die wyn-en-olyf-landgoed Morgenster by Somerset-Wes.

Min weet die smulpape wat by die sierlik gedekte tafel in Overture aansit vir Bertus se prei-en-aartappelsop met Maleise kerrieroomys, of sy confit lamskouer met purée de pommes de terre, dat die sjef versot is op Maltabella-pap.

Sy gejaagde lewe noodsaak hom om gesonder te lewe. Hy't ophou rook ("my groot persoonlike oorwinning"), vermy koolhidrate en het sku geraak vir gluten. Maar die dag dat die groot burger-lus Bertus beetpak, klou die drang soos 'n hardnekkige rooiwynvlek.

"Dit kom uit my kinderdae toe die dorp se Spur al uiteet-plek was. Vandag nog, wanneer ek van die buiteland af kom, pyl ek dadelik op die lughawe-Spur af vir my fix." Die burger-belustigheid oorval hom soms op pad huis toe ná 'n kookskof. "Dan bel ek die Spur in die Strand uit my kar uit en bestel 'n wegneemburger met tjips, en vir my hond, Patat, die ribbetjies."

Die sjef met die kuif het nog een belydenis: "Ek leef van kitskoffie, veral noudat ek die rookgoed gelos het."