Wat de hel soek ek hier? Iewers moet daar fout wees... Ek is skaars 41, maal deur my gedagtes terwyl die noodpersoneel om my rondskarrel, ek wil nie nou al aan ’n hartaanval doodgaan nie! Ek is bang. En ongelooflik seer. Die pyn in my bors en my linkerarm is so erg dat ek op die teatertafel lê en krul. Die
suurstofmasker maak my benoud en ek wil dit heeltyd afruk. Skaars ’n halfuur vroeër daardie Saterdagoggend was ek besig om teëls te lê in die garage toe ek gaandeweg bewus raak van ’n benoudheid in my bors. Eers het ek gedink dis ’n probleem met my diafragma omdat ek heeltyd gehurk gesit en werk het, maar daar was ook ’n pyn weerskante van my nek. Ek moes vinnig speel, maar was alleen tuis omdat my vrou gaan inkopies doen het. Die hospitaal is skaars 3 km van ons huis af en ek het besluit om in die motor te spring en self te jaag. By noodgevalle is ek ’n klomp goed ingejaag – meestal bloedverdunners, maar ook morfien, en selfs dít kon niks doen aan die verskriklike pyn in my bors en linkerarm nie. Omtrent ’n halfuur later het die pyn skielik bedaar. Die trombose of gestolde bloed wat die blokkasie by die aarvernouing veroorsaak het, het opgelos, en die bloedtoevoer na daardie deel van my hart is herstel. Ek het baie jare elke nou en dan by die Panorama-hartkliniek in die Kaap verbygery en altyd half spottenderwys opgemerk dit is op presies die regte plek: Naby al die welaf Kaapse Afrikaners
sodat hulle gou hulp kan kry as hul oordadige leefstyl hulle inhaal. Min het ek geweet ek sal self eendag daar in ’n teater lê. Dr. Pierre Roux, die kardioloog, was vriendelik en gerusstellend (die Springbok-T-hemp wat hy gedra het, het beslis gehelp). Binne ’n kwartier het hy die twee vernouings in my slagaar met titaniumstents oopgemaak via ’n kateter wat by ’n aar in my lies ingestoot is. Minute later het ek in die hoësorgsaal gelê, en kort daarna wou die verpleegpersoneel weet of ek rooiwyn saam met my aandete wil hê! Ek was uit die veld geslaan. Ek het die Lotto gewen. As ek die hartaanval gekry het op ’n
werk-trip in byvoorbeeld Botswana of Lesotho, sou ek óf dood gewees het óf ernstige hartskade gehad het. Die hospitaalsorg was wonderlik, maar die besef van wat met my gebeur het, het my soos ’n Bakkies Botha-duikslag begin tref. Toe ek twee dae later ’n hartsonar ondergaan en hoor my hart funksioneer normaal, het ek rukkend begin huil. Twee dae ná my ontslag was ek nog só swak dat ek nie my motorfiets se spieëltjie met ’n shifting spanner kon uitdraai nie. Tien dae later het ek versigtig (en vreesbevange) begin oefen. Ek het in ons buurt begin stap, bang dat my hart sou gaan staan. Ek was uitasem en swak. Naby ons huis het ek vir seker 50 m huiwerig begin draf. En dit oorleef. Oor die volgende paar weke het ek geleidelik meer begin oefen – aanvanklik op die gimnasium se trapfiets en later op die roeimasjien. Ses weke ná die hartaanval moes ek vir ’n opvolgbesoek by die kardioloog aanmeld. My hart is piekfyn, het dr. Roux gesê. Ek het pas die Twee Oseanehalfmarathon voltooi, maar tussen dít en daardie angswekkende oomblikke op die koue operasietafel in die hospitaal was maande vol vrees en onsekerheid. Ek het besef my lewe het onherroeplik verander.

Ek wil nie preek nie, maar as my ervaring net een ander ou se lewe kan red, praat ek eerder kaalvuis: die Afrikanerman is
die perfekte kandidaat vir ’n hartaanval. Asof ons genetiese geneigdheid tot hartkwale nie erg genoeg is nie, is ons leefstyl van geen oefening en borde vol vetterige kos nommerpas om ons van die wal af in die sloot te help. Wat kan ’n mens doen? Vrek baie! Behalwe om vir ’n mediese ondersoek te gaan, moet jy die waarheid in die oë kyk en jou eetgewoontes verander. Of glo jy dit “sal nie met my gebeur nie”? Die
harde werklikheid is dat jy maar solank jou testament in orde kan kry indien jy van plan is om “lekker te leef”. Want selfs al gaan jy nie binne die volgende paar jaar dood aan jou hart nie, gaan jou “lekker lewe” vroeër eerder as later ’n ander siekte oor jou pad stuur. As jy gelukkig is, is dit tipe 2-diabetes, en as jy minder gelukkig is, ’n leefstylverwante kanker. Hoe lyk dit met nog ’n lekker vet skaaptjop, of ’n bordjie vol kaasworsies?

Daar is nóg goeie nuus. Gesond eet is nie net gesond nie, maar ook baie lekker. Tot onlangs het ek nie ’n idee gehad oor hoe lekker slaai kan wees nie, maar nou lê ek weg aan olywe, vars blaarslaai, babatamaties en allerhande kraakvars geure. En dan is daar vis. Ek het grootgeword met die idee “vis is nie vleis nie”, maar het intussen agtergekom ’n tunasteak is baie lekkerder as enige stuk rooivleis, en,
genugtig, hoekom het ek nie salm baie vroeër ontdek nie? Daar is deesdae sóveel boeke en ander
inligting oor gesond eet dat onkunde lankal nie meer ’n verskoning is nie. As jy wil, sál jy die nodige inligting kry, en as jy twyfel, besoek jy ’n dieetkundige. En só, met oefen en gesond eet, het ek in vier maande altesame 12 kilogram afgeskud. Sonder om ooit honger te wees. Ek is nou fikser en sterker met baie meer energie as in die ses of sewe jaar voor die hartaanval. Mense vra gereeld watter dieet ek volg. Die antwoord is eenvoudig: Ek vermy dierevet – visse s’n uitgesluit – sover moontlik, en die res is eintlik alles orraait. Veral slaaie, groente en vrugte. Vis, maer hoender en steak – selfs vark sonder enige vet. Die reël is: Geen sigbare vet nie. Ek was ongelooflik gelukkig. Ek het ’n tweede kans gekry. Baie van ons weet van ouens van laat in die dertig, vroeg veertig, wat ’n hartaanval gekry het en dit nie oorleef het nie, en dit het my laat besef ek moet iets drasties doen. Daarom het ek nie net ’n kopskuif gemaak nie,
maar ook ’n kosskuif. Waar ek vroeër in ’n groot mate geleef het om lekker te eet, eet ek nou om lekker te leef. Jou hart – en jou gesin – verdien niks minder nie.