Sop is die een gereg waarmee ek huweliksgebooie gesluit het en daarby hou. In voorspoed en teëspoed, as dit vrolik gaan én olik gaan, is ons daar vir mekaar.

’n Amerikaanse rubriekskrywer van ouds, Judith Martin, het tereg só oor sop gepeins: “Is daar ’n gawer, meer aanpasbare vriend as sop? Is daar enigiemand wat verder uit sy pad sal gaan sodat jy heilsaam kan eet, maar ook op die oorvloedigste tafel sy man sal staan en die puntenerigste gas tevrede stel?” Sop, skryf sy voorts, doen altyd sy lojaalste bes, dit maak nie saak watter onwaardige bestanddele jy daarop afdwing nie. En dan vra sy tereg: “Het ’n steak al ooit aan jou deur kom klop as jy platsak is of siek in die kooi lê?”

Ek glo sop is soos mense. Warm, uitbundige boontjie- en groentesoppe dra hul groothartige geure op hul mou soos my Ant Alie. Dan’s daar bourride, ’n stille-water-diepe-grond-vissop wat met elke happie nóg ’n smaak openbaar.

Die stylvolles en flambojantes is daar ook: Sop à la Escoffier (legendariese Franse sjef), wat deur ’n ring getrek kan word en uit ’n kartelrand-kom geskep wil word. Goed berese soppe soos tom yum goong (Thailand), laksa (speseryagtige Oosterse sop), harira (tradisionele Marokkaanse sop), en agt-juweelsop vertel stories van avonture in eksotiese lande. As vernuftige karakterakteur speel sop meesterlik die hoofrol in ’n gesinsete en blink anderdag weer uit as byspeler in die openingstoneel van ’n
aandpak-banket.

Sop dra ook die filosofiese vaandel as omnium gatherum – die byeenkom van alle dinge. Wyle Marthinus Versfeld, ons land se eie Sokrates, skryf in The Philosopher’s Cookbook dat jou eie wêreld in geen ander van jou potte met soveel harmonie bymekaar kom as juis in die soppot nie.

Ek stem saam met Versfeld wanneer hy sê “as jy jou ma liefhet, het jy ook haar sop lief”. My sop-gene (soos my liefde vir skryf) kry ek by my ma, Inez. Ná ’n nostalgiese kosgesprek oor haar kinderjare skryf sy vir my ’n gediggie, “Sop in die Aand”. Dit hunker na ’n pot wat prut met been se lym/’n warm vuur vir samesyn/groente se geur wat met kruie vermeng/en só die aand se ure verleng. Liefde en sop saam in die pot. Sop is ook die muse vir my skildervriend Theo Kleynhans. Hy’s bekend vir die enorme bouillon-kastrolle sop wat hy reghou by die “kuns-uitverkopings” by sy huisateljee. Dan staan die kunshongeres
met hul maer beursies tou vir ’n goeie stukkie kuns vir ’n kaal muur en ’n skotteltjie sop vir die wintergeteisterde gees. Sop is een van daai oergoed wat soos die eerste kuns begin het, glo Theo.

“Daar’s met houtskool uit die vuurtjie begin krap aan ’n grotwand om ’n simbool te maak. Sop is net so argaïes, iets wat aan jou binnewand, aan jou genetika krap,” skilder hy voort. “Net soos goeie kuns, beleef ’n mens goeie sop instinktief. Dis goed of dis nie. Party mense kan dit maak, ander nie.” Opgewonde oor die nuwe heruitgawe van C. Louis Leipoldt se Kos vir die Kenner, blaai ek eerste na die “Soep”-hoofstuk. “Daar’s oor die sesduisend verskillende maniere om soep te maak,” begin hy.

Tussen die armmansoep, die landsmansoep en die bekoorlik klinkende “sjtsji-soep” (’n Russiese koolsop), aalwyn-, papkuil-, of palmietsoep, brandnetelsoep en bolletjiesoep, staan ek stil by ’n ou resep vir Kaapse wynsoep. Gemaak met melk, nartjieskil, neutmuskaat, foelie, piment, suiker en botter, soetwyn (of mos), gemmer, grypies anyssaad wat alles warm oor eiergele gegiet word, klink dit na ’n progressiewe skepping uit ’n eietydse Top-10-restaurant. Met ’n effense verkoue-kuggie vang ’n hoendersop my oog – die Florence Nightingale van die koswêreld. Volgens Leipoldt was die Potage à la Reine die lieflingsop van koningin Magriet van Valois. Adellik maar veeleisend, toe ek sien dit moet deur
’n sif gegooi word. Ek blaai terug na die resep vir die Esausoep so reg uit die Ou Testament, altyd ’n staatmaker om ’n laatwinter-verkoue op sy jis te skop.

Sop kom ook met ’n waarskuwing. Die sussende trooster is nie altyd vergewensgesind nie. Dit bied nie wegkruipplek vir droogmaak nie, duld nie pakkies of blikkies nie en as dit aanbrand, haal jy tevergeefs jou truuks uit. Sop wat afgeskeep is, blaker dit aan die wêreld uit.