... Ons 50ste uitgawe & ’n nuwe kosredakteur

Tye verander en ons is los voor!

’n Dekade gelede het SARIE besluit om SARIE KOS bekend te stel, want daar was ’n ooglopende behoefte in die mark aan ’n tydskrif vol eerlike Afrikaanse kos met ’n moderne kinkel. SARIE KOS was dadelik ’n wegholsukses en met die 50ste uitgawe wat binnekort op die rak is, is dit tyd om dinge behoorlik op te kikker.

SARIE se huidige kosredakteur, Herman Lensing, wat ook ’n gewilde TV-persoonlikheid is, hou ook nou die leisels van SARIE KOS. Hy sal die inspirasie wees agter die tydskrif se opwindende 360-kosaanbod. Sy liefde vir kos en ongelooflik kreatiewe aanslag sal duidelik sigbaar wees in die nuwe kwartaallikse uitgawes van SARIE KOS, nog ’n nuwe kosprogram op DStv/VIA, daaglikse digitale bydraes vir SARIE.com (wat kosvideo’s insluit), seisoenale werksessies waar kosliefhebbers kan deel en leer, en natuurlik elke uitgawe van SARIE.

Onder Herman se leiding sal SARIE KOS fokus op kos wat hedendaags en byderwets is, maar ook op ou gunstelinge waarsonder ons nie kan leef nie. Dit sal die stories vertel van plaaslike koshelde wat ons kulinêre kultuur skep, maar ook gewilde internasionale kospersoonlikhede insluit. Herman wil ook idees deel vir onder meer maklik onthaal oor naweke en kosoplossings vir elke dag. En, natuurlik, vir resepte vir gesond eet en spesiale dieetvoorkeure (veral diabete).

Met Herman – wat onlangs ingesluit is by Mail & Guardian se gesogte lys van 200 jong Suid-Afrikaners om dop te hou, en al twee gewilde resepteboeke op sy kerfstok het – is SARIE KOS waarlik ’n kostydskrif vir 2017: modern, met sakpas-vriendelike resepte, prakties en mooi met ’n tikkie nostalgie. Nuwe kos en bekende kos, wat verruklik herverpak word. Dink aan tamatiebredie met Noord-Afrika-geure, soetpatats met ’n tikkie saffraan, klassieke malvapoeding met ’n New Yorkse baadjie en ’n braaibroodjie wat nuwe lewe kry met verouderde bokmelkkaas. Kos waaraan jy kan weglê terwyl jy luilekker kuier om ’n tafel.

Ons kan nie wag nie! Kan jy?