Die verskeidenheid koswinkels en restaurante in New York is net so groot soos die verskeidenheid modewinkels waarvoor die stad beroemd is - ontwerper-fusion-kuierplekke, sjarmante pizzerias, vreemde klein kafeetjies, letterlik iets van alles.

New York het ’n grinterige en ietwat vervalle kant, maar ’n kultuur van vooruitdenkende ontwerp en kulinêre sofistikasie vloei deur dié polsende stad se are. New Yorkers roem hulself byvoorbeeld daarop dat hulle weet waar die beste soesjikroeg, die heerlikste fettucini of die mees fantastiese martini’s gevind kan word.

Die Meatpacking District in Chelsea is byderwets met klipstrate en pretensielose deure wat wonderbaarlik versierde interieurs wegsteek. Onder hulle is Spice Market, waar Oosterse fusion food bedien word, soos tuna met rissie-tapioka, Asiatiese peer en lemmetjie, of avokado-en-radysslaai met Chinese mosterd. Die warm, ouwêreldse dekor laat jou werklik voel asof jy in ’n eksotiese wêrelddeel te lande gekom het. Vir nog indrukwekkende ontwerp kan ’n mens afsit Buddha Bar toe. Maar wie het ’n kroegman met ’n slegte houding nodig as jy meer as R100 vir ’n drankie betaal? Die nabygeleë Chelsea-mark is ’n binnenshuise doolhof van bakkerye, teekamers, dekorwinkels en restaurante in ’n nywerheidsmilieu. Moenie versuim om by 202 in te loer vir ’n latte nie. Hier het ek en my reismaat, Roberta Little, sjokoladetert met pampoenroomys bestel. Roberta het gesweer sy voel die sjokolade in haar bloed!

Die hamburger is onmisbaar deel van die Amerikaanse koskultuur, en vir ’n outentieke New Yorkse een móét jy Big Nick’s besoek. Dis omtrent net ’n gat in die muur, maar word al dekades lank deur New Yorkers besoek vir die boeklengte spyskaart, eindelose keuses en reuse hamburgers. Verkies jy ’n stylvoller burger, is Houston’s die plek vir jou. In dié manlike interieur met gemaklike, ruim eethoekies is daar oorgenoeg wegkruipplek van Manhatten se maniese strate. Die hamburgers is heerlik en die appeltert het vir my en Roberta sáám ore aangesit! (Wees net gewaarsku: Hier moet jy netjies aantrek - nogal snaaks, aangesien ’n mens Times Square in jou onderklere en met ’n pienk flamink op jou kop kan oorsteek sonder dat enigiemand twee keer sal kyk . . .)

Maar by hamburgers hoef jy hoegenaamd nie op te hou nie. Die Amerikaanse smeltpot van kulture beteken jy kan feitlik enige land se kos, en boonop outentiek, in New York op jou bord aantref. As jy Oekraïnse kookkuns soek, besoek Veselka vir ghoelasj, borsjt (Russiese beetsop) of hul spesialiteitsdis, pierogi, ’n tipe gevulde deegpoffertjie. Vir Mexikaanse kos is ons gunsteling Dos Caminos vir sy ontspanne atmosfeer, tacos en guacamole wat ’n mens lus maak om te emigreer. En as jy nog nie genoeg “olé” geroep het nie, probeer gerus Gabriella’s. Maar as jy begin heimwee kry, is Madiba in Brooklyn net die plek. Hier kry jy lekker melktert en ’n Klippies-en-Coke, en kan jy selfs jou rooibostee- en Mrs Balls-voorraad aanvul.

Vir diegene met ’n suikertand is Café Lalo ’n moet. Beroemd vir ’n rolletjie in ’n Meg Ryan-fliek (nee, nie dáái toneel nie), maar dit verdien ’n Oscar vir nageregte. Meer as honderd koeke om van te kies maak jou besluit beslis nie makliker nie. Wie’t geweet ’n mens kry 26 soorte kaaskoek? Einde ten laaste het ons op ’n grondboontjiebroslekker-sjokolade-moussekoek en ’n sny pampoen-kaaskoek besluit. Nét my Nuwejaarsdieet het my daarvan weerhou om nog te bestel.

New York se hotdogs is egter nie juis watwonders nie, al lyk dit in die Hollywood-flieks asof jy nie by ’n straathoek-stalletjie verby behoort te stap nie. Vir ’n aartstipiese New Yorkse ervaring moet jy liewer verby al die kitskosrestaurante kyk en by ’n eg Amerikaanse diner, soos City Diner, gaan eet. ’n Mens sien hulle oral oor die stad, en hulle spog byna altyd met art deco-versierings en verchroomde stoeltjies by ’n toonbank. Die diens is vinnig, die kos voedsaam en die prys billik. En boonop smaak hulle koffie beter as dié by die duur Starbucks-takke waar ’n mens voel jy het ’n graad nodig net om koffie te bestel.

New York is soos ’n Ali Baba-grot van unieke eetplekke. As jy die Groot Appel se kos regtig wil ontdek, stap net met oop oë by jou hotel uit. Binne vyftig meter sal jy die een of ander klein juweel ontdek. Dan kom jy dalk ook huis toe met kennis van waar jy die heel beste pampoentert kan bestel.

Jou New York-adreslys

• Spice Market, 403 West 13th Street
• Big Nick’s, 2175 Broadway at 77th Street
• Houston’s, 153 East 53rd Street at 3rd Avenue
• Veselka, 144 2nd Avenue
• Dos Caminos, 373 Park Avenue South at 27th Street; 475 West Broadway at Houston
• Gabriella’s, 688 Columbus Avenue at 93rd Street
• Madiba, 195 DeKalb Avenue, www.madibarestaurant.com
• Café Lalo, 201 West 83rd Street City Diner,  2441 Broadway
• Buttercup Bake Shop, 141 West 72nd Street