Ouer in ’n kits

Die Clef du Vin is as ’t ware ’n wyn-towerstaffie wat die tanniene in rooiwyn en die suur in witwyn oombliklik versag. Só kan jy bepaal of wyn sal baat vind by veroudering, en bereken hoe lank jy dit kan hou. Hoe werk dit? ’n Enkele sekonde se kontak tussen die spesiale metaalallooi en ’n glas wyn versnel oksidasie en simuleer só ’n jaar se veroudering. Wat die Clef du Vin egter nié kan doen nie, is om van ’n swak wyn ’n goeie te maak! ¦ Beskikbaar by boetiek-wynwinkels teen sowat R800

By biltong

Probeer Stellenbosch Hills se wyn-en-biltongavontuur - dis die eerste keer dat dié eg Suid- Afrikaanse kombinasie saam geproe kan word. Vyf heerlike wyne word saam met onder meer bees-, koedoe- en springbokbiltong voorgesit, teen slegs R35 per persoon. Skakel 021 881 3828 of besoek www.stellenbosch-hills.co.za

Wyn nét in die Kaap? Nog nooit!

Tiny en Judy van Niekerkhet in 2005 geskiedenis gemaak deur KwaZulu-Natal as ’n Wyn van Oorsprong-gebied te laat verklaar.Kortdaarna het hulle die eerste wynvan die area gebottel. The Stables-wynlandgoed is op ’n ou perdeplaas nabydie Drakensberge. Hier geedie winterse sneeukombers wingerde ’n lekker ruskans. Skakel 033 266 6781 vir meer inligting of besoek www.stableswine.co.za

Kombinasies wat wérk

  • port & bloukaas
  • vonkelwyn & brie
  • laatoeswyne & roquefort
  • ryk chardonnays & camembert

’n Bok vir kaas

’n Verstommende 32 wêreldtoekennings in 5 jaar, meer as 400 bokke en sowat 25 kase. Fairview het al ewe veel roem verwerf vir sy bokmelkkase as sy lekker wyn. Maak enige dag van die week ’n draai by die restaurant op die plaas, The Goatshed, vir ’n kaasbord met onder meer camembert, brie, roquefort, gorgonzola en chevin-kaas met knoffel en pietersielie of songedroogde tamaties en basiliekruid. Onthou om die bokke te gaan groet. En bring die kinders saam!

Kaas en wyn kom goed klaar, maar word ’n wenspan as jy hierdie wenke onthou

1 Tekstuur
Sagte, romerige kase sal die binnekant van jou mond smeer en jou smaakbekertjies verstop. Jy sal dan nie veel van die wyn se smaak proe nie. Drink dus liefs witwyn met ’n verfrissende suurheid hiermee saam.

2 Soetigheid

Soeterige kase sal droë wyne in kontras suur laat smaak. ’n Effe droë of selfs ’n soet wyn pas beter hierby.

3 Geure
Sterk kase met ryp geure kan wyn oorheers en vra dus vir “sterker” wyn. Gefortifiseerde wyne soos port en sjerrie kan hul man staan.

Reg of verkeerd?  - Maak jou glas ’n verskil aan jou wyn se smaak?

Leigh Robertson wynkenner en -joernalis
Ek glo die regte glas verbeter die wynervaring: duurder kristalglase is so goed ontwerp dat die wyn se geure en aromas na vore kom. Selfs eenvoudige wyn smaak lekkerder uit ’n mooi glas.

André van Rensburg wynmaker, Vergelegen
Ja! Wyn is vir totale sintuiglike genot - dus moet glase ook die sintuie bevredig. Ek  verkies taamlike groot glase, maar nie só groot dat hulle onstabiel is nie. Witwynglase moet meer tulpvormig wees, en rooiwynglase benodig ’n groter opening. En geen gekleurde glas nie: Jy moet wyn se kleur kan sien.

Nora Sperling-Thiel bemarkingsdirekteur, Delheim
Beslis! Ons het vroeër klein proeglase in ons proelokaal gebruik. Vandag het ons groter kristalglase omdat die wyn daarin anders smaak en ruik. Geure is meer intens daarin en die elegante dun rand dra by tot ’n aangenamer smaakervaring.

Hoe klink on glase as on ’n heildronk instel?

Daar is verskeie weergawes van en mites oor dié gebruik. Maar hierdie is die mooiste: Wanneer ons wyn drink, gebruik ons net vier van die vyf sintuie - ons kyk na die kleur, ruik of “neus” die wyn, voel dit in die mond, en proe dit dan. Die enigste sintuig wat uitgelaat word, is dié van gehoor. Ons klink dus ons glase om aan ál vyf ons sintuie plesier te verskaf!