Graham Beck Demi Sec BLISS NV (Vier die lewe!)

’n Heerlike semisoet vonkelwyn uit Robertson se geweste, gemaak van chardonnay- en  pinot noir-druiwe. Bedien met soetsuur geregte en aarbei-pavlova; ook die ideale drankie by ’n stukkie brie.

Prys sowat R85

Fleur du Cap Edellaatoes 2006 (Soet en verleidelik)

Dié wyn spog met vyf sterre in die bekende John Platter-wyngids, en is gemaak van Rynse rieslingdruiwe. Dit bevat ’n hele spektrum heuning-, perske-, droëvrugte- en vanieljegeure. Perfek saam met roquefortkaas en nagereg.

Prys sowat R85

 Allesverloren Vintage Reserve Port 1997
(Perfek ná ete)

Allesverloren is die oudste wynlandgoed in die Swartland en beroemd vir sy heerlike port, propvol rosyntjie-, koffievanielje- en neutgeure. Nét die smaakmaat vir bloukaas.

Prys sowat R220

Kanu 2007 Chenin Blanc (Waarde vir geld)

Dié wynlandgoed is bekend vir sy heerlike Chenin Blanc. ’n Kort houtkontakperiode gee kompleksiteit, sonder om oorheersend te wees. Geniet met seekos.

Prys sowat R35

Bilton Sir Percy 2004 ( By vleisgeregte)

’n Elegante bordeauxversnit van 60% cabernet sauvignon en 30% merlot. Dis vernoem na ’n voorvader van die Bilton-familie, Sir Percy, wat vir liefdadigheidswerk tot ridder geslaan is. Geniet saam met beesvleis, sjokolade-nageregte en sterk, harde kaassoorte.

Prys sowat R125