OK, ek sal dit nou maar erken . . . ek het ’n absolute obsessie met kookboeke. Ek kan nie genoeg hê nie. Ek het so net onder die 300 boeke. Party deel van ’n reeks, ander vertel ’n storie van waar ek was, sommige is sommer net nog ’n kookboek. My dilemma is egter dat ek nie eintlik uit die boeke kook nie. Ek vind soveel inspirasie uit die foto’s en die stories dat ek nooit eens resepte uit die boeke probeer kook nie. Ek verkies om op my eie avontuur te gaan en self te ondek wat ek kan. Boeke sonder foto’s is nie welkom op my boekrak nie. Of so het ek gedink . . .
So stuur iemand laasweek vir my nog ’n klomp boeke wat sy iewers op ’n mark gekoop het. Die boodskap op die koevert lees: Dié is nie enige kookboeke nie. Pas dit mooi op! Alles in hoofletters en baie duidelik gestel. Ek het sonder enige afwagting die koevert oopgeskeur. Wat ’n ontstellende oomblik. Tussen die bruin papier vind ek ’n baie vaal boek. Baie oud, sonder enige foto's of iets wat lyk na inspirasie. Min het ek geweet wat op my wag . . . Ek flans die boek oop om te sien wat so spesiaal is daaraan. ONGELOOFLIK. Op die eerste blad van die boek is in ’n amper onleesbare skrif geskryf: “Elke resep in die boek is met liefde gekook. Elkeen vertel ’n storie en ek hoop dat jy net soos ek die vreugde van kook sal ontdek.” Voor my ontvou ’n lewensverhaal in die kombuis. Elke bladsy wat ek lees, laat my proe aan iets anders. Ek ruik die geure van elke gereg. Proe die liefde op elke bladsy. So hier en daar sien ek ’n olie-spatsel of ’n paar kosvlekke. Op party plekke meer as ander. Die groot kerrie-vlek by die bobotie-resep is vir my ’n aanduiding dat dié een ’n wenner is. Iewers tussen die bladsye kom ek af op ’n resep vir gebakte lamsboud met gebraaide aartappels. Niks unieks aan dié dis nie, maar dis die woorde in die kantlyn wat trane in my oë bring. Dit lees: "Braai die aartappel in regte botter, dis baie belangrik.” Geen verskuilde agendas nie, net lekker kos. Soos die boek vorder, lees ek van suurlemoen-skuimpoeding. Ek onthou meteens die ligte, skuimerige poeding met die dik laag onderaan die bak. My ouma het dit gereeld vir ons voorgesit. Ek maak die boek toe en staar na die rye boeke voor my. Jamie, Nigella, Donna Hay. Hulle almal staan daar. Maar skielik lyk hulle vir my so alledaags. In my hande hou ek ’n boek wat seker beskou kan word as die manuskrip vir Suid-Afrikaanse kos, huiskos en onthoukos. Wie ook al die skrywer van die boek was – sy was ongelooflik. Haar liefde vir kos is presies wat ek elke dag in myself sien. Ek is versot op kook. Die boek was bedóél om by my uit te kom. Laat hoor van jul handgeskrewe boeke met die geheime resepte wat al vir generasies in die familie skuil. Ek is seker ek kan tonne inspirasie in elkeen vind!