Noem 'n smaak en ek gee jou 'n plek.

Die beste eiervrug en soetrooi tamaties - Sicilië. Pizza met brosdeeg en vars basiliekruid, beter as enigiets wat Elizabeth Gilbert in Eat Pray Love kan optower - Capri-eiland.

Geurige uiesop in die winter - Frankryk. Crème caramel, so effe warm - Portugal. Hoender-satay, daardie stukkie hoender op 'n stokkie met die ek-kan-nie-genoeg-kry-nie-grondboontjiesous - Maleisië. Smaaklike peri-peri prawns - Mosambiek. Pynappelsap, vars en dik en stroopsoet - Ghana. Bobotie met rosyntjie-geelrys en klapper - ongetwyfeld Kaapstad.

Warm roosterkoek met druppende heelappelkooskonfyt - Oudtshoorn tydens die KKNK. En kolwyntjies met soet, romerige versiersel - New York en kinderpartytjies op Caledon. Kolwyntjies, of cupcakes, móét die top-prys kry vir die lekkereet-ding wat roekeloos omgaan met ons emosies. Van noord na suid, oos na wes, almal het 'n cupcake-herinnering. As kind was ek mal oor hulle, want geen twee was ooit presies dieselfde nie. Jy kon hulle aantrek in anderste "rokke".

Optower in sagte witte en ballerina-pienke, of prettig versier in reënboogkleure en elk 'n ander storie laat vertel.

My kolwyntjie-storie is kort, maar een wat eintlik al my lewensfilosofie geword het. Toe my ma op só 'n feesdag my linte vir oulaas regskuif en my herinner om tog te groet en dankie te sê, voeg sy by: En as daar cupcakes is, maak seker dat jy met jou beste maniere die mooiste en grootste een vir jóú neem. As jý dit nie neem nie, sal iemand anders . . .

Sedertdien ontsnap min kolwyntjies my aandag. Ek kry hulle op toonbanke en winkelrakke, op troues en verjaardagpartytjies, in boeke en op voorskote. Ek geniet hulle eksoties of eenvoudig - van die Hamptons in Amerika tot die Overberg in die Kaap. En altyd neem ek die grootste en mooiste vir mý.

Want my ma het so gesê . . . Geniet nou Barbara en Herman se 30 beste kolwyntjies. 'n Anderste een vir elke dag van die maand!

Groete,
Michélle

Wat sê Barbara oor die nuwe uitgawe van SARIE KOS?

"Wanneer die weer warmer word en die dae langer, raak ek lus vir kuier om 'n tafel - met meze, daardie eksotiese Mediterreense peusel-kos. Ek kan vir ure so aan verskillende geregte sit en proe.
Om die waarheid te sê, ek hou so baie daarvan dat selfs my trou-onthaal 20 jaar gelede in die Turkse restaurant Anatoli in die Kaap gehou is.

"Almal het gesit by lang tafels wat gekreun het onder Turkse meze. Vars, warm brode het uit die oond gekom, en saam met die humus, tzatziki en ander verleidelikhede soos kebabs kan ek getuig dat dit inderdaad 'n fees was. Vir my was dit die ideale troue. En nou is ook die tyd om só te kuier. Maak die meze en nooi jou vriende, sodat almal die lente aan die lyf kan voel.

Lekker kook, lekker kuier!"

 

Nooi mense vir meze

Die weer begin draai, die dae word langer, dis tyd vir behoorlik kuier - met meze, daardie klein bakkies met verskillende geregte wat die gaste laat raai en praat en smul. Dis Turks van oorsprong en al lank gewild in ons land. Vra my, ek is in 'n Turkse restaurant getroud!

Franse kos, hartskos - Marita en Alain kook saam

Die SARIE-rubriekskrywer Marita van der Vyver en haar man, Alain Claisse, het 'n Franse kookboek saamgestel. Maar jy sal nie resepte vir paddaboudjies, slakke of foie gras daarin kry nie. Net regte huiskos. Riette Rust het in Kaapstad met hulle gesels


1 resep, 10 kolwyntjies (cupcakes)

"Dis 'n emosionele ding: Hierdie kolwyntjie is net myne, dit pas in my hand en ek hoef dit met niemand te deel nie! Dis jou eie klein geskenk aan jouself. Kolwyntjies is eenvoudig genoeg om te eet saam met tee, interessant genoeg vir kinderpartytjies én gesofistikeerd genoeg vir troues. Wat meer wil jy hê? As jy eers die basiese kolwyntjieresep het, kan jy enige soetgoed bysit en verskeie variasies optower."

Koekies vir kleintjies

Verby is die dae van groot tema-koeke - nou kan maatjies na die partytjie 'n paar kolwyntjies saamneem huis toe

Nuwe reeks! 5 + 1
Kies 5 bestanddele, voeg nog een by en maak 5 verskillende etes
6-uur tuis, eet half-7
Lente is in die lug en dis tyd vir ligte, vars etes. Kies uit 15 maklike resepte

Quiche-keurig

Ons praat van souttert  en die Franse van quiche, 'n lekker lente-middagete saam met slaai. Met die basiese deegresep en 'n quiche-pan kan jy wondere verrig.

Kom saam mark toe
...ons koop toffieappels, sitrusstrope, biltong, plaasbrood, groente, forel en potjies ingelegde lekkertes. Ons kook ook van die mark af saam met Herman.
Die rooi hart van lekker
My ouma het altyd van 'n jam-tamatie gepraat, bedoelende 'n rosa- of Italiaanse tamatie. Groot of klein, dis perfek om mee te kook.
Jogurt - die nuwe room!
Daardie fluweel-voorkoms maak jogurt perfek vir enigiets van tuisgemaakte kaas tot ontbyt. En dis gesond - dit bevat meer kalsium en proteïene

Ons soek SA se beste aartappelslaai

Is jou resep die een wat almal laat vra vir nog? Kom deel dit met ons en wen Kenwood-kombuistoebehore

 

'n Skeppie vrugte vir ekstra vreugde

Toor met die seisoen se mooiste vrugte vir baie fênsie kolwyntjies