Inspirasiekos met SARIE is elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147). Dit word met trots geborg deur SA Pork. 

Herman se drie-bone-slaai

Herman se drie-bone-slaai

Ek was al by te veel braaivleisvure waar daar hartseer boneslaai opgedis word wat verdrink in slegte slaaisous. Probeer hierdie een.

genoeg vir 6

  • 80 ml olyfolie
  • 45 ml korrelmosterd 
  • 65 ml heuning 
  • sap en skil van 2 suurlemoene 
  • sout en varsgemaalde swartpeper 
  • 350 g Franse groenbone, gedompel in kookwater
  •  280 g sneeu-ertjies (mangetout), fyngesny 
  • 150 g suiker-ertjies (sugar snaps), oorlangs gehalveer 
  • 240 g boerbone, gedompel in kookwater, velletjies verwyder
  • 6 fetawiele

Klits olyfolie, mosterd, heuning, sap en skil van suurlemoen saam. Geur goed met sout en peper. Plaas res van die bestanddele in ’n groot mengbak en gooi marinade oor. Geur weer goed en meng deur. Sit voor saam met steak.

Boerboon-hummus op roosterbrood

Boerboon-hummus op roosterbrood

Hierdie patee gaan gou ’n gunsteling raak in jou huis. Sit dit voor as voorgereg of peuselkos.

genoeg vir 8 

  • 250 ml boerbone, skoongemaak
  • 1 x 400 g-blik kekerertjies
  • 45 ml tahinni
  • 2 knoffelhuisies
  • 1 rooi brandrissies
  • sap en gerasperde skil van 3 suurlemoene
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 100 g (110 ml) botter, gesmelt
  • 1 ciabatta, in skywe gesny

Bring pot met water tot kookpount en kook die boerbone tot sag en gaar. Dreineer en verwyder dik buitelaag van die bone. Plaas ertjies, tahinni, knoffel, gaar bone, brandrissie, sap en skil van suurlemoen in voedselverwerker. Puree op hoe spoed tot gladde en romerige mengsel – hoe langer jy dit puree hoe gladder gaan dit raak. Geur goed met sout en peper. Verhit botter tot warm in braaipan en braai broodsnye tot goudbruin en bros. Smeer met boerbone-hummus en sit voor.

Groen, groener, gnocchi

Groen, groener, gnocchi

Daar is iets spesiaals aan tuisgemaakte pasta. Dit laat jou dadelik bederf voel.

genoeg vir 4

  • 2 aartappels, gekook tot sag, skil verwyder
  • 1 eier
  • 210 g (375 ml) meel, plus ekstra vir uitrol
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 45 ml botter
  • 10 salieblare
  • 70 g boerbone, gedompel in kookwater, skil verwyder
  • 70 g groenbone, gedompel in kookwater
  • 70 g suiker-ertjies, gedompel in kookwater
  • 250 ml room
  • ekstra parmesaan vir voorsit

Druk gaar aartappels deur ’n sif tot ’n fyn puree. Voeg eier en meel by en meng tot ’n hanteerbare deeg. Voeg nog meel by, indien nodig, totdat dit nie meer klewerig is nie. Geur goed met sout en swartpeper. Laat rus vir 20 minute. Verdeel deeg in 4 en bestrooi ’n oppervlak met meel. Gebruik jou vingerpunte en rol deeg in lang silinders uit, sowat 2 cm dik. Sny gerolde deeg in 2 cm lange gnocchi en hou eenkant terwyl jy die res uitrol. Kook ’n groot pot vol water en gooi gnocchi in. Sodra hulle dryf, is hulle gaar. Dreineer en hou eenkant. Smelt botter in ’n groot pan. Voeg salieblare by, gevolg deur bone. Braai vir 5 minute en voeg room by en laat kook vir 5-8 minute of tot romerige sous vorm. Voeg gaar gnocchi by.. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor.

Kry vorige episodes se resepte hier:

Episode 1: Suurlemoene

Episode 2: Avokado

Episode 3: Artisjokke

Episode 4: Bone

Episode 6: Perlemoen

Episode 7: Kaas

Episode 9: Aspersies