Inspirasiekos met SARIE is elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147). Dit word met trots geborg deur SA Pork.

Roomsagte risotto met kaasballe

Die Italianers maak spaghetti met frikkadelle. Probeer nou hierdie nuwe weergawe met ’n Marokkaanse kinkel. En moenie skrik vir dié vinniger metode van risotto berei nie – dis byna soos ryspoeding maak.

genoeg vir 6 

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 250 ml arborio-rys
  • 100 ml witwyn
  • 500 ml hoenderaftreksel
  • 125 ml room
  • 150 g gruyère, gerasper
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 200 g roomkaas
  • 100 g doekka 

Verhit olyfolie tot warm in ’n middelslag-pot. Voeg ui en knoffel by en braai vir 3 minute. Voeg rys by en braai nog 2 minute. Voeg wyn by en laat wegkook. Gooi al die aftreksel by. Bring tot kookpunt en verlaag hitte tot rys stadig prut. Roer die mengsel heeltyd met ’n houtlepel om stysel in rys los te maak. Hou so aan tot rys gaar en romerig is, sowat 20-25 minute. Voeg room by en laat nog 3 minute prut. Verwyder van hitte en voeg kaas by. Roer tot gladde mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Rol roomkaas in balle met hande wat effens nat gemaak is met skoon water. Rol balle in doekka-speserye. Pak frikkadelle bo-op warm risotto. Sit voor.

Romerige blomkoolsop

Dit klink dalk ongewoon om kaas by blomkoolsop te sit, maar dis byna soos blomkool met kaasous, net ’n sopweergawe!

genoeg vir 6

  • 70 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 6 sprietuie, fyngekap
  • 2 klein koppe blomkool, grofgekap
  • 250 ml melk
  • 500 ml groenteaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 100 g gruyère, gerasper
  • 30 ml mosterdsaad
  • 60 ml botter 

Verhit botter en olyfolie tot matig warm in middelslag-kastrol. Voeg ui, knoffel en sprietuie by. Braai vir 2 minute. Stel hitte laer en sit deksel op. Laat ui in toe pot stowe vir 8-10 minute. Roer af en toe. Voeg blomkool by en roer. Sit weer deksel op en stowe vir nog 5 minute. Voeg melk en aftreksel by en bring tot kookpunt. Laat kook vir 20-25 minute of tot blomkool sag en gaar is. Geur goed met sout en peper. Verwerk in voedselverwerker tot gladde mengsel. Voeg kaas by en verwerk weer tot glad. Plaas mosterdsaad en 60 ml botter in middelslag-pot en bring dit oor lae hitte tot kookpunt. Laat stadig prut vir 2-3 minute of tot goudbruin. Skep sop in bakkies en skep bruin mosterdsaadbotter bo-oor. Sit voor met brood.

Fênsie knoffelbrood

genoeg vir 6 

Belowe my een ding – dat as jy dié resep ooit beproef, jy sal wegbly van die bottels goudgeel knoffel in olie wat vir maande op die supermark se rak staan. Dis daai knoffel wat jou weke lank so laat stink. Vars knoffel gee kos geur en smaak.

  • 200 g sagte botter
  • 1 hand vol gemengde kruie, fyngekap
  • 6 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 groot ovaal brood
  • 1 x 250 g-pakkie rugspek, fyngekap
  • 200 g verouderde gruyère, gerasper
  • 6 roosmaryntakkies
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Kry kole mediumwarm. Plaas botter, kruie en knoffel in ’n voedselverwerker en pols dit teen ’n hoë spoed tot ’n gladde mengsel. Gebruik ’n skerp broodmes en maak 1 cm-insnydings in die brood. (Moenie regdeur sny nie.) Smeer van die kruiebotter tussen elke sny – moenie suinig wees nie; gebruik alles. Druk spek en kaas in elke sny in. Druk hier en daar ’n takkie roosmaryn in. Geur goed met sout en peper. Draai die brood in tinfoelie toe en plaas in die warm oond. Plaas op warm kole en braai 15-20 minute of tot die spek gaar is. Hou warm tot opdiening.

Kry vorige episodes se resepte hier:

Episode 1: Suurlemoene

Episode 2: Avokado

Episode 3: Artisjokke

Episode 4: Bone

Episode 6: Perlemoen

Episode 7: Kaas

Episode 9: Aspersies