Jan Braai se nuwe reeks is dié winter terug op kykNET en dit skop in Switserland af – met glühwein op die vuur om die koue af te weer. In dié reeks wys Jan dat jy enige plek in SA kan vuurmaak, van Greyton tot Kosibaai en Ballito. Hy steek ook grense oor na ons buurland, Namibië, en selfs na Europa om dáár 'n vuurtjie aan te steek!

Toer saam met Jan Braai vir die aksiebelaaide seisoen waar hy waterski, sneeuski, branderplankry en bergfietsry. Ontspan dan weer in die Karoo, waar 'n boer uit die geweste hom leer skape tel.

Suid-Afrika se braaikoning wys hoe om ongewone items soos pastei oor die kole te maak en gee ou gunstelinge, soos skaapkerrie, nuwe skop. Steek die vuur aan om saam met Jan Braai te leer en te lag, vanaf Vrydag 5 Julie om 19h30 op kykNET.