"My eerste Italiaanse ervaring as kind was in Mario’srestaurant in Groenpunt in die Kaap. Die restaurant bestaan al sedert 1971. Ons het net soontoe gegaan vir ’n spesiale geleentheid – soos verjaarsdae. Die mure van die eetplek was vol boodskappe geskryf, maar die eintlike rede hoekom ons daar gaan eet het, was die antipasti-trollie.

Dit was van donkerhout (soos ’n teetrollie) en gelaai met ’n verskeidenheid klein Itialiaanse kossies. Baie van die geregte was vir my vreemd, maar ek was alte gretig om enigiets nuuts te probeer!

Dit was so lekker dat ek baie keer net by die trollie vasgehaak het sonder om iets anders van die spyskaart te bestel. Mario’s bestaan vandag nog, en steeds met dieselfde eienaars.

In die sewentigs was lasagne ook my ma se gunsteling-gereg as sy groot partytjies gehou het. Sy het dan net één spyskaart gehad – lasagne gemaak met groen pasta (soos ek dit as kind genoem het), knoffelbrood en gemengde slaai. Almal het altyd gepraat van hoe lekker haar lasagne was.

Italiaanse kos het so deel van ons eetgewoontes geword dat die meeste van ons minstens een keer ’n week pasta eet. Geniet gerus al my beste Italiaanse resepte op bl. 16. Sonder twyfel deel Suid-Afrikaners en Italianers dieselfde passie as dit by kos en kuier kom."

Lekker kook!

Barbara - kosredakteur SARIE KOS

Hier is 'n voorsmakie van wat jy te wagte kan wees:


  KUIER ITALIAANS - Tiramisu
   RUGBY-ONTBYT! - Biltong-en-chedderkaas-quiche
   6-UUR TUIS, EET HALF 7 - Slaai met geroosterde aartappels, spek en ertjies
   KOEK IN EEN PAN - Lemoenblokkies-koes
   SA SE LEKKERSTE SOUSKLUITJIES én stuur volgende jou gunsteling-sjokoladekoek resep in!
   DIE BOS GEHEIM - Onderstebo-sampioentert
   TWEE KOSMANNE REIS TESAME - Wortelkoek
   KOOK EN SKINK DIE CHARDONNAY - Tartiflette
   5 + 1 - Gevulde hoenderborsies
   RESEPTE VIR DIABETE - Griekse pizza