My dag begin altyd met ’n goeie koppie koffie, maar nie kitskoffie nie. Nee, koffie soos my ouma dit gemaak het: met regte moerkoffie in ’n dompelkoffiepot (plunger). Boeretroos op sy beste, dít maak my dadelik wakker en lus om te werk.

Maar wat van al daardie moer wat oorbly? Aikôna vir weggooi! Jy kan baie daarmee doen.

1. Skrop jou stoof, potte en panne daarmee

Die growwe koffiekorrels maak potte en panne maklik skoon. Sprinkel ook lepels vol ou moerkoffie op jou stoof saam met ’n lepel of twee koeksoda. Laat staan vir ’n uur of twee en sprinkel dan ’n lepel of twee witasyn oor. Die korrels is lekker grof en ruik ook heerlik. Dit sal saam met die suur en koeksoda gou die vuil op jou stoof laat verdwyn, soos mis voor die son.

 2. Gesonde kompos

Gooi die koffiemoer op jou komposhoop saam met al jou groenteskille en afvalprodukte. Die wurms is mal oor die geur van koffie en sal dit alles opeet. Al gehoor van wurmtee? Hoe meer kos die wurms eet, hoe meer van die voedingryke tee produseer hulle - dis baie gesond vir jou plante.

3. Gee geur aan vleis

Meng twee of drie lepels koffiemoer met sout, olyfolie, knoffel, roosmaryn en peper. Voeg by ’n lepel of twee bruinsuiker en worcestersous. Meng en gebruik dit as ’n geur-vryfmiddel (rub) op ’n steak of ’n lamsboud. Die geur van koffie smaak baie lekker saam met vleis wat stadig gaar gemaak word of oor kole gebraai word.

4. Raak ontslae van reuke in jou yskas

As jy my yskas oopmaak, sal jy altyd ’n klein bakkie met koffiemoer daarin kry. Nee, dis nie om te eet nie, maar eerder om my yskas vry te hou van sterk reuke soos knoffel. Die koffiemoer absorbeer sterk reuke en vul jou yskas natuurlik met die geur van koffie. Maak net seker produkte soos kaas is netjies toegemaak, anders sal die reuk van koffie daarin trek.

5. Krapmerke op donker meubels

Koffie help nie net om jou wakker te maak nie, maar help ook om van kolle en krapmerke op donker meubels ontslae te raak. Meng koffiemoer met goeie meubelolie en wend dit aan op die vlek of krapmerke. Laat dit staan vir paar ’n minute en olie dan met ’n skoon lap tot die kol of krap ligter is - onthou, dié wenk werk net op donker meubels. Bly weg van ligte hout, want koffie kan dit vlek.