Keith Floyd, berug en befaam, is nie meer met ons nie. Hy's Maandag op 65 aan 'n hartaanval oorlede. Sy insig, charisma en liefde vir kos het hom die voorloper van vandag se TV-sjefs, soos Jamie Oliver en Gordon Ramsay, gemaak.

"Elke suksesvolle TV-sjef kan vandag hul loopbaan aan sy sukses toeskryf. Hy het ons almal geïnspireer om verder te gaan," het Antony Worrall Thompson, een van Brittanje se gewilde TV-kos-kenners gesê.

Floyd het 'n baie unieke manier gehad om met mense te praat - dit was asof hy die kyker in sy kombuis ingeneem het om self die kos te maak. Sy passie vir kos en wyn het vir almal gewys dat dit vreugde in jou lewe kan bring. Hy was iemand wat gewaag het, en was nooit bang vir 'n uitdaging nie.

Vir enige sjef is dit 'n waagkans om 'n restaurant oop te maak. Om dit boonop op 22 te doen is eenvoudig kêns! Maar Floyd het almal verkeerd bewys en sy eerste restaurant op so 'n jong ouderdom begin - en dit was maar net een van sy baie suksesverhale.

Floyd het meer as 20 kookboeke geskryf waarvan die meeste wêreldwyd top-verkopers was. Sy outobiografie, Shaken not stirred, word volgende maand gepubliseer.

Keith Floyd sal gemis word - hy was 'n kos-legende en 'n ware inspirasie vir sjefs, kokke en kosliefhebbers - orals.