Koffie is die sewende grootste landbouproduk op aarde, en die wêreldwye koffiehandel beloop jaarliks miljarde. Maar een van die doeltreffendste bemarkingsveldtogte daarvoor is sekerlik ook die goedkoopste: Ma en pa wat nuuskierige agies van die skinkbord wegweer met: “Koffie? Nee, wag tot jy groot is!”

Niks is aanlokliker as verbode vrugte nie, en ek kon skaars wag totdat ek oud genoeg was om my eerste, onafhanklike koppie koffie te skink en geniet. Groot was die teleurstelling op koshuis dan, toe koffie vrylik beskikbaar was uit enorme staalkanne, maar o! so sleg... ’n Vaalbruin, bitter brousel wat korrelrig oor die tande gespoel het. Enige koffieliefhebber sal spring om jou te vertel dat hulle hulself eerder in geheel onthou van hul koppie troos as om ’n minderwaardige soort af te sluk. Maar een mens se idee van “goed genoeg” is alte dikwels ’n ander se definisie van “gif”.

Ek staan telkens verwonderd en geamuseerd deur ’n gas se heftige reaksie op ’n onskuldige aanbod van koffie. “Jy het nie room nie? O gits, dan drink ek eerder  sap. Net filter? Nooit gehoor nie, net kits vir my, en net ’n halflepeltjie, hoor? En swart, asseblief, pikgitswart.” Dan is daar diegene wat glo dat geen koppie koffie die sluk werd is tensy die bone vars gerooster en gemaal word op bestelling nie, en slegs met gesuiwerde water gebrou word, aangesien die chloor in kraanwater die smaak bederf. Dalk is ek óf gulsig óf ’n Filistyn, want wanneer ek self ’n gas is, drink ek myne maar soos die kan hom skink. Solank daar net nie sigorei by is nie!

’n Bietjie kennis doen nie skade nie. Die oorsprong van die bone sowel as die naam is duister, maar die konsensus is dat 9de eeuse Ethiopiese bokwagters opgemerk het hul troppe is besonder lewendig nadat hulle aan die rooibruin bessies van ’n bepaalde bos gevreet het. ’n Sluier val oor hóé lank en hóé wyd daar met die bessies geëksperimenteer is voordat ’n drinkbare brousel geprakseer is - stellig het ’n bokwagter se vrou een aand uit frustrasie ’n handvol bone in die vuur gesmyt met ’n “genoeg van hierdie nonsens!”, en het die hemelse aroma die geselskap oorreed om net nog één keer te proe... Met meer as 100 miljoen mense in  ontwikkelende lande tans afhanklik van koffieproduksie besit dié stimulerende boon allerweë die vermoë om die hartklop te versnel, al is dit deesdae merendeels weens wisselende markpryse. En nes persoonlike giere is etniese en kulturele voorkeur ook oral te bespeur.

Vir Turkse koffie word ’n baie donkergeroosterde boon poeierfyn gemaal, in kokende water gedompel met ’n gelyke hoeveelheid suiker, en dan opgekook tot ’n stroperige mengsel wat swart bedien word, met ’n glas water byderhand. In Frankryk werk dit net mooi andersom: Kookwater word óp die gemaalde koffie gegiet en gefilter, nooit gekook nie, en melkerig bedien, soms in kommetjies as café au lait vir ontbyt. In Oostenryk en Italië stem koffiestyle ooreen - gemaak deur stoom in spesiale apparate deur gemaalde koffie te forseer, en dit óf swart te bedien, soos die Italiaanse espresso en Weense mokka, óf met ’n kappie romerige melkskuim vir cappuccino of ’n Kapuziner.

Koffiebome is by uitstek tropiese plante, en gedy meestal in hooglande na aan die wenaar. Brasilië is die grootste produsent, en die VSA die grootste verbruiker, maar daar is ook koffieplantasies in Afrika, die Wes- Indiese eilande, Suid-Amerika en selfs Indië.

Uit vyftig spesies koffiebome lewer twee die vernaamste oeste: Die gesogte arabica, en die meer geharde, minder watersugtige robusta. Eersgenoemde behels sowat 70% van die totale oes en word hoofsaaklik as enkelvariëteite verkoop. Robusta, wat gebruik word in kitskoffie en espresso, lewer slegs sowat 25% van die oes. Om van boom tot in jou bodemlose koppie te vorder moet die bone eers gerooster en gemaal word, en dís waar die kunstenaarshand benodig word. Van lig of medium tot donker, van poeier tot grofgemaal, dis prosesse wat groot kundigheid en spesialis-toebehore verg om ’n ordentlike koppie boeretroos te lewer. En of jy nou beskuit daarin gaan doop ná ’n besoek aan die landerye of gaan kook daarmee is om’t ewe, dit bly... koffiekapitaal.