Oral in die land kuier mense Saterdae luilekker op kosmarkte. Hulle proe, voel en koop smulgoed - alles uit hul eie omgewing. Dis ongelooflik hoe baie kosmarkte die afgelope jaar in ons groot stede ontstaan het, sê tendenskenner Dion Chang.

"By die markte gaan dit veral oor die rustige genieting van 'n lewe van goeie gehalte." Die oplewing van die slow living-tendens is volgens hom te danke aan 'n paar elemente. "Daar het by mense 'n verset ontstaan teen alles wat in die digitale era vinnig en onmiddellik moet gebeur. Ons stuur gou 'n e-pos of SMS, of twiet en verwag iemand moet dadelik reageer."

Hy meen mense is ook moeg vir massageproduseerde kos en kitskos. "Hulle wil terugbeweeg na ou en bekende dinge soos met jou mandjie mark toe gaan." "As jy jou plaaslike produsent steun, verkort jy die pad wat jou kos loop en is daar minder kans vir besmetting," sê dr. Gail Blake, mediese dokter en ma van drie, wat in 2008 die Vars Goed Mark op Stellenbosch begin. Sy noem dit ook regionalization.

"Die ideaal is dat jy elke dag jou kos vars by 'n plaaslike produsent kan koop, nie meer as 40 km van jou huis af nie," vertel dié vrou wat Suid-Afrika in Oktober by die internasionale slow food-organisasie in Italië gaan verteenwoordig. So, stof jou mandjie af en kom doen kuier-kuier saam inkopies by 3 markte . . .

STADIG STADIG . . .
Die slow food-beweging is in 1986 uit protes deur die Italiaanse kosskrywer Carlo Petrini begin toe McDonald's 'n tak in Rome oopgemaak het. Slow food staan vir vars, plaaslike, seisoenale bestanddele en resepte wat respekvol van geslag tot geslag oorgedra word. Dis stááádig kuier om die tafel saam met vriende en familie.

* Vir meer inligting oor die organisasie waarvan Suid-Afrika lid is, gaan na www.slowfood.com. By www.slowine.co.za kan jy lees oor Slowine, 'n groep vriende wat 'n wyn ter ere van slow living ontwikkel het.

Pretoria Boeremark

Pioniersmuseum, Keuningstraat, Silverton, Pretoria.
Elke Saterdag van 5:00 tot 9:30, behalwe op godsdienstige vakansiedae wat op 'n Saterdag val. Kontakpersoon: Johan van Wyk, 082 416 3900.
 

Ons begin sommer by Nellie Ras van Brits se stalletjie. Die biltong, vars vleis en groente kom van hul plaas naby Mooinooi. "Ons het al sewe jaar 'n stalletjie hier en die ander uitstallers is al soos familie. Ons werk maar so kuier-kuier langs mekaar," vertel sy.

Vir 'n bietjie soetigheid byt ons aan een van Nataleen Vorster se cupcakes, elkeen 'n pragstuk met van fyn blommetjies tot diere vir die kleingoed. Gaan loer by www.bakedbynataleen.co.za.

Waarvoor is jy nou lus? Koue vleise en vleissmere of wors van Harrismith se wêreld af? Daar is natuurlik ook allerlei varkvleise al die pad van Koster in die Vrystaat.

Maar moenie die vars groente miskyk nie. Dis immers 'n boeremark. Het jy al sulke slaaie en blomkole soos dié van Frik Louwrens van Hekpoort gesien?

Ons ruik aan die kruie by David van Deventer se stalletjie, proe regte plaasbrood by Gert du Toit. "Ek het my broodresep deur die jare vervolmaak en gee nie my geheim weg nie. Kom ons noem my geheime bestanddeel maar gebak met liefde," vertel die man wat nou al twee jaar hier uitstal.

Hy verkoop 300 brode op 'n markdag! "Ek begin die vorige aand sesuur al bak en sorg dat die brode vars hier aankom." Ook by Kotie Hurn moet jy nie verbyloop nie. Vra maar net rond waar is die "koeksisterkoningin" van die mark. "Ek gebruik nog 'n outydse reseppie met kaneel en gemmer in," vertel Kotie, wat maklik 10 dosyn koeksisters op 'n Saterdag verkoop.

Haar gunsteling by die mark is die melkkos - 'n tradisionele resep. Die snysels word gefrummel en 'n dik laag kaneelsuiker kom bo-oor.

Dié soetigheid sluk jy af met 'n koppie boeretroos wat nog met moersakkies in egte koffieketels gemaak is.

Maar maak dalk eers 'n draai by Sharon Nel se stalletjie. Sy bak maklik 800 pannekoeke in een oggend! En niemand kan kaas maak soos 'n Hollander nie. Johan van der Poel van Poelkaas op Cullinan se kase het al verskeie pryse gewen. Maar die proof is in die proe! nooi hy.

Dan is daar ook Hester Hoogendijk van die plaas Doornkraal naby Bapsfontein se Hijke-kase. Sy maak al meer as tien jaar kase vir delikatessewinkels, met pekanneute en vye in, komyngouda, pecorino en karringmelk.

Lynne Imrie kom stal nie net haar konfyte uit nie, maar sê sy gebruik die geleentheid om in die luilekker atmosfeer te kuier. Ons koop katôba-jellie by haar en pak dit bo in ons mandjie. Nou nog net vir 'n bakkie met Elizabeth Labuschagne se kerriefrikkadelle voor jy jou onder 'n boom gaan tuismaak en eet . . .

Bryanston Organiese Mark

Culrossweg, Bryanston. Elke Donderdag en Saterdag van 9:00 tot 15:00.
Nog inligting is by www.bryanstonorganicmarket.co.za beskikbaar. (Onthou die Maanligmarkte van middel November elke Dinsdag van 17:00 tot 21:00.)

Hierdie mark is al van 1976 'n instelling. As jy in Jozi woon, en 'n voorliefde het vir heilsame, vars organiese en natuurlike kosse en láááng kuiers onder die koeltebome, is dit die plek waar jy twee keer per week jou kosinkopies gaan doen.

Stap jy by die hek in, vou die kalmte en lus vir ontspan op 'n kombers onder 'n boom oor jou. Die vriendelike, warm atmosfeer by die teetuin, koffiewinkel en pizza-restaurant spoel oor na elke stalletjie op die perseel, en jy kan na 'n musikale uitvoering luister terwyl jy knibbelkos van muffins tot fyn delikatesse geniet. By The Loaf móét jy 'n broodjie of twee vars uit 'n natuurlike houtoond koop. Die meel is varsgemaal en die gis natuurlik.

Koop ook vir jou 'n paar skywe gerookte forel, forelpatee en forelkaviaar by Hermann Hofreiter. Hy bring dit al die pad van Lydenburg af. "Ek sorg dat ek elke markdag by een van my mede-uitstallers wildsvleis-produkte koop. Dis my gunsteling!" vertel hy.

Emma Cyrus se souse en konfyte, Wyckedd, het ontstaan nadat haar man, Rolf, 'n reusesak rissies as geskenk gekry en hulle konfyte en souse daarvan gekook het. Familie en vriende het daarna begin vra en voor hulle hulle kon kry, het hulle skouers geskuur met belangrike foodies. (Lees meer by www.wyckedd.co.za.)

Draf so vinnig soos jy kan na die stalletjie van die gemmerbroodman! Mrs Bread-care se gemmerbroodmannetjies is wyd bekend, en Dalia Tzor en haar span spesialiseer ook in gluten- en koringvrye brood, koekies en beskuit vir mense met allergieë.

By Vicky Benjamin koop ons vars heuningkoeke en 'n verskeidenheid neute en droëvrugte - natuurlik gedroog, sonder skadelike bymiddels.

"Omdat ek 'n vegetariër en gesondheidsfanatikus is, is dit die ideale mark om al my inkopies by te doen. Die uitstallers is gesteld op gehalte en gesonde kosse. Ek smul altyd aan die slaaie en quiches vir vegetariërs!" Jou dors les jy met een van die ingevoerde koffies by The Cultured Bean, waar Ronny Abro jou sal vertel van sy verskeidenheid van so ver as Afrika en Suid-Amerika.

Onthou ook om plaaseiers (free range) te gaan koop! En pak jou mandjie vol met vars organiese groente van Wensleydale Farm. Dié plaas spesialiseer ook in skaars groentes soos verskeie raapsoorte en kohlrabi. Maar die lekkerste van hierdie mark bly dat jy 'n mandjie vol lekkernye kan koop en onder die bome kan uitspan!

Hazel-kosmark

Pinasterstraat, Hazelwood, Pretoria.
Elke Saterdag van 8:00 tot 13:00. Lees meer by: www.hazelfoodmarket.co.za.
 

Onthou, om so op 'n mark inkopies te doen is nie werk nie. Jy gaan soontoe om laid back rond te kuier en te proe. Wim van Zyl is 'n man wat waarskynlik 'n paar Argentyne 'n ding kan leer oor die maak van chimichurri. Dis 'n Argentynse salsa, maar Wim se patriotisme slaan darem deur as jy sy biltong-relish proe.

Met 'n naam soos Windgat Chilli Sauce, móét jy die maker, De Villiers Booysen, ontmoet. Hy kan maar wintie wees, want die souse brrrrand jou spysverteringstelsel skoon! Laaf nou jou tong met Marisa Mosca se sitrusstrope en knibbel aan haar fyngebak. Smag jy na soutigheid, is Roy Gibbs van Hartbeespoort se gerookte kase en vleise die stalletjie waar jy moet gaan stilstaan. Of druk een van Sita Maarschalk se songedroogde perskes in jou kies, proe die son en verlang na jou ouma . . .

Jy kan ook outentieke groenmango-atjar en jackfruit-atjar uit Pranisha Argoon se kombuis proe. Antoinette Labuschagne vertel so deur die proeëry deur hoe baie sy van die atmosfeer van die mark hou: "Omdat mense nie haastig is nie en bereid is om 'n rukkie in 'n ry te wag vir gehalte. "Dis 'n lekker familiekuierplek."

Intussen laai ons 'n Italiaanse artisanbrood (met die hand gemaak en sonder preserveermiddels) van Cassien Enslin in ons mandjie, kou vir 'n bietjie nostalgie aan 'n taai toffieappel by Karien Goëbel se stalletjie, en by Elsje Pretorius koop ons Spiced Moroccan-suurlemoene en ingelegde sampioene. "Ek versamel die resepte al jare en het dit aangepas," vertel sy.

Nandine Hartig maak 'n nougatkoek wat lank in jou soete drome sal skuil. Maar laai van haar sout wat in die Kalahari-son gedroog is ook in die mandjie.

Die groot geheim van die mark is om nie by elke stalletjie soveel te proe dat jy daarna versadig is nie! Los 'n plekkie vir Griekse olywe, tuisgemaakte pasteie, tradisionele Hollandse vleescroquetten (frikkadelle), Italiaanse souse, gepiekelde oesters en mossels, en tradisionele limonade. En moenie vergeet om Pieter Kruger van Wolmaransstad se unieke spekvleiskonfyt, wortelblatjang en uieblatjang op jou smaakkliere te beproef nie . . . een van elk in die mandjie!

"Ek kom nie net hier werk nie, ek kom vir die ontspanning," vertel hy. En natuurlik om te proe. "Het jy daardie cupcakes met die nougat al gesien?" Voor jy loop, koop sommer ook vir jouself 'n bos vars blomme!


Nog plaaslike markte in Suid-Afrika

 
GAUTENG

Blubird Whole Food Market
Blubird Shopping Centre, Athol-, Oaklands Weg, Sandton
Elke Sondag van 9h00 tot 14h00
Kontak 083 311 4768

Dit is deesdae die gewildste fynproewers- en organiese mark in die stad. Gaan proe aan vars vrugte en groente, pasteie, Libanese geregte, Italiaanse pasta en anti pasti, Indiese speserye en geregte, biscotti, verskeie teesoorte, fynproewer-sjokolade, artisanbrode en  Switserse gebak.

Killarney Wholesome Organic and Natural Market
Killarney Mall, 60 Riviera Road, Killarney
Elke Donderdag van 09h00 tot 15h00
Kontak 011 646 4657

Pak jou mandjie vol organiese lekkernye. Smul aan vrugte en groente van die seisoen, varsgebakte brode, konserf, konfyte en pasteie en organiese snoephappies.

Melrose Arch Kersfeesmark
Melrose Square, Melrose Arch, Rosebank
24 tot 27 Desember 15h00 tot 20h00
Kontak 083 3114768

Moenie jou dood werk aan Kersfeeskos nie. Gaan kuier by dié mark vir vars Kersfeesfyngebak en smulgeregte. Gee vanjaar 'n eetbare Kersgeskenk.

Rosebank Rooftop Market
The Mall, Bakerstraat, Rosebank
Sondae en publieke vakansiedae 9h00 tot 17h00
Kontak 011 442 4488

Onderneem 'n wêreldreis met jou tong by dié gewilde mark se kosstalletjies. Varsgebakte brode, piekels, koeke, gebottelde souse, kase en heuning is maar enkele van die groot verskeidenheid verleidelikhede.

WES-KAAP

Stellenbosch Fresh Goods Market
Oude Libertas Estate, Stellenbosch
Elke Saterdag van 09h00 tot 16h00

Willowbridge Slow Market
Willowbridge Lifestyle Centre
Elke Saterdag van 09h00 tot 15h00

Woodstock's Neighbourgoods Market
Old Biscuit Mill in Woodstock
Elke Saterdag van 09h00 tot 14h00

Wild Oats Community Farmers Market
Sedgefield, Tuin roete.
Kontak 044 883-1177
Elke Saterdag van 08h30 tot 13h00