Oor minder as drie dae vind die troue van die jaar plaas: die koninklike bruilof tussen prins Harry en Meghan Markle! Uiteindelik gaan ons ná maande se gewag en bespiegeling sien hoe die bruid, die bruidegom, hul gevolg, die koets en die blomme lyk. Hoe opwindend!

FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoewel baie oor die troue nog 'n groot geheim is, weet ons al iets oor die troukoek. In plaas van die tradisionele vrugtekoek het die paartjie besluit op 'n koek van suurlemoen en vlierblom (elderflower). Dit gaan met botterroom versier word met vars en suikerblomme bo-op. 'n Heerlike kombinasie!

Die Londense bakker Claire Ptak bak die koek.

Bak die koninklike troukoek! Hier's die resep

Die webtuiste Bon appétit het spesiaal 'n resep ontwikkel om die koninklike troukoek na te boots. Hier's die resep wat vir enige okkasie gebak kan word, klik hier.

En as jy nie tyd het vir bak nie, deel ons Herman Lensing se heerlike resep van vlierblom-en-sitroen-limonade. Sien onder!

FOTO Instagram / violetcakeslondon

Het jy geweet?

Koninklike troukoeke 

'n Vrugtekoek is tradisie. Kyk net watter koeke het dié koninklike paartjies gekies.

Koningin Elizabeth II en prins Philip

Die vrugtekoek het byna 230 kg geweeg en uit vier vlakke bestaan. Die bestanddele is deur die Australiese Girl Guides geskenk.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Prins Charles en prinses Diana

Dit het bestaan uit twee tradisionele versierde vrugtekoeke (elk vyf vlakke hoog!) met die Windsor-wapen in marsipein. Dis deur die Royal Navy Cookery School gebak danksy Charles se verbintenis met die vloot.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Prins William en Kate Middleton

Dit was ’n tradisionele vrugtekoek wat uit agt lae bestaan het.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Herman se vlierblom-en-sitroen-limonade

Vlierblom - die naam is byna so mooi soos wat dit lekker smaak.

(1 liter)

- 80 ml vlierblom-stroop

- 2 sitroengras-stingels, gekneus

- 1 suurlemoen, in skywe gesny 

- 400 ml appelsap

- 600 ml sodawater

- hand vol origanum-takkies

- 200 g vars aarbeie

Voeg alles bymekaar en meng goed. Verdeel tussen glasbottels en verkoel tot yskoud. Pak in en geniet! Wenk: As jy nie vlierblom-stroop kan kry nie, kook 250 ml suiker saam met 500 ml water. Geur met lemoenbloeisel-water.