EEN KEER PER MAAND LOER DIE seekoeie vir ’n paar manne wat in ’n lapa langs die Olifantsrivier digby Groblersdal kuier. Vroue is nie hier welkom nie, pap is die enigste bykos, en ’n knipmes die enigste eetgerei... byna soos by ’n vergadering in die jaar toet, of hoe?

Maar terwyl die son sak, word daar vreedsaam, vrinnelik kopstukke gesels terwyl die skaap sy laaste draaie op die spit maak. Eenkant, soos geskenkpakkies in foelie toegedraai, wag die skaapkoppe vir dié wat bestel het.

Piet Wolf, die balju van die dorp, het dié jarelange tradisie begin. “Die koppe is omtrent al duurder as die R60 wat ek vra,” sug Piet, “maar ek doen dit vir die tradisie en die liefde van die saak. Mense maak nie meer skaapkop nie, en daarom is daar manne wat hondgetrou elke maand hul skaapkop by my kom soek. Én een vrou – ek moet altyd ook een reghou vir Diane Joubert.”

Nóg só ’n interessante samesyn vind anderkant die Drakensberg plaas. Hier in Rhodes se onheilspellende maar beeldskone berge waar met toeriste en skape geboer word, is dit vier seisoene in een dag.

In die Walkerbouts Inn skuur Dave Walker se rolstoel net-net deur die stoepdeur. (Hy is tydelik op wiele nadat hy op nat klippe gegly het.) Dave is op pad na die kroegie, want buite het die perskereëntjie mampoer beginne raak.

Om ’n asempie lewe in die verveeldheid te stook het Dave ’n paar jaar gelede die Rhodes-skaapkopgilde gestig, en eie aan sy platjie-geaardheid is elke aand met groot seremonie gevier: Das was verpligtend, en kouse verbode; die groetproses het ’n geblêr en ’n stywe skoot “taxi”-snuif en versterkwater behels; daar was Ou ramme en Jong ramme en ’n inisiasieproses...

Dié rituele het helaas ’n stille dood gesterf, soos met vele ander skaapkopgildes gebeur het, hoewel Dave steeds mense aan nuwe geure en teksture bekend stel.

“Ons hou elke jaar ’n extreme trail running-kompetisie waar die locals die waterpunte beman. Toe dag ek ons moet iets anders bied, en besluit as die ouens daar aangehardloop kom, voer ons hulle skaappeertjies met vetkoek. Hulle vra ‘Wááát is dit dié?’, maar ek sê net ‘proteïen-aanvulling, kragkos’, en dan hardloop hulle ’n hond uit ’n bos. En volgende jaar is hulle terug en hulle soek net daai prêrie-oesters.”

Dit klink dalk masochisties om deur sneeu te hardloop en skaappeertjies deel van die avontuur te maak, maar afval-eet is geen ekstreme avontuursport nie. Dit is eerder ’n ryke hoofstuk in die tradisionele Suid-Afrikaanse kookkuns, een wat op die platteland geskryf is. Dit gaan oor ’n waardering vir die volle gawes en die benutting van die hele dier.

Die 71-jarige Linda Terblanche het in die Molteno-distrik grootgeword en woon steeds op die familieplaas saam met haar man, Fred (78).

Vanmelewe se dae was daar nie yskaste nie, en hoewel die slagding darem ’n tydjie in die steenkoolmuurkoelkamer kon hou, is die afval dadelik bewerk en dan gekook of gebak. “Die lewer en niertjies is sommer net daar gaargemaak,” vertel sy.

“Die afval was die lekkerste van die slag,” sê oom Fred, vol heimwee. “En moenie vergeet van die gebakte skaapkop, wat deurnag in die Aga-stoof gaargemaak is nie.”

Vir baie mense is skaap deesdae die vier netjies verpakte tjoppies met ’n aardige prys en ’n plakkertjie met ’n karikatuuragtige skapie wat jy in die supermark aantref. As Ma of Pa nie met skaapkop grootgeword het nie, sit kinders bra moeilik tand aan so ’n vreemdigheid.

By die Bronberg-wynlandgoed in Pretoria kry ’n mens nog skaapkop op die spyskaart. Baie mense gaan soek daar die smake uit hul verlede en stel dan hul nasate en vriende daaraan bekend.

Hans Lombaard, die sjef van Bronberg Lodge, sit omtrent sewe skaapkoppe per week voor, en “sommer baie” afval. “Ek onthou die graad 1-laaitie wie se oupa hom hierheen gebring het en hy wou skaapkop hê. Hy kon net die helfte opeet, maar wou die res skool toe vat om vir sy maats te wys wat hy eet!

“En dan was daar die tafel van 15, van wie die meerderheid jong vroue was. Hulle het vir my hoeka na schnitzel- en filet-mense gelyk, maar byna almal, behalwe die een se boyfriend, het afval bestel. Hulle het vir my gesê: ‘Maar Oom, dis dan waarmee ons grootgeword het!’”

Hetta van der Merwe, bobaaskok van die Paarl, hou al vyftien jaar so drie, vier keer elke winter ’n afval-aand by die Boland-kelder waar jy ook skaapkop kan bestel.

Soos Piet Wolf kla Hetta ook dit is baie moeite vir min geld, maar sy doen dit vir die liefde van die saak. “Ek het al bejaarde mans met ’n skaapkop voor hulle gesien wat trane in die oë kry en sê: ‘Laas in my ouma se kombuis...’”

Hetta, ’n Kaapse nooi wat nie veel van afval geweet het tot sy met ’n Karoo-boer getroud is nie, is jare gelede genooi om afval en skaapkop vir die parlementslede te maak.

“Al die LP’s en belangrike mense was besig om van die ander kos te skep, en toe hulle omdraai en hierdie indrukwekkende gesig van vyftig stuks skaapkop sien, het dit kompleet gelyk of die kelners blur soos hulle hol om voor te bly soos wat die skaapkoppe vir takeaways bestel is!”

Tog is afval- en skaapkop-eet een van net ’n handjie vol kostradisies wat wit en swart Suid-Afrikaners deel, sê die kosskrywer Dine van Zyl. Hoewel skaapkop in townships meestal gekook en ’n “Smiley” genoem word (omdat die lipvleis tydens die kook- of bakproses krimp en die skaap dan vir jou tande wys), kan dié lekkerny met reg aanspraak maak op die titel nasionale gereg. Met dié dat selfs hooggeplaastes nie verhewe is bo die skaap se beskeie offerandes nie, is ’n baie eksklusiewe afvalklub digby die Uniegebou gestig waar die vader van afval in Pretoria, oom At Fourie, die eerste twee Donderdae van die maand afval kook (en ’n beespot, vir die heidene wat nog nie tot afval bekeer is nie).

Jy kan nie sommer net opdaag en hoop om saam te eet nie – nee, jy word genooi. Tussen vyftig en honderd statige mense, regte fynlakenmense, trek Donderdae hier saam: oues, jonges in jeans en rompies, nuuskieriges, afvalverslaafdes...

Ek vra verskeie van hulle waar die misterieuse oom At dan is sodat ek kan kennis maak, maar hulle skud net die kop. Uiteindelik snap ek oom At maak eers saam met die afval sy opwagting. Die nekke rek en mense staan al in die oprit en wag toe die yslike kospotte uiteindelik met ’n trollie by die klubhuis ingestoot word. Tyd vir groet is daar nie, want die mense staan reeds tou – bord in die hand.

Oom At staan by die afvalpot aan die einde van die ry potte met rys, stampmielies, soetpatats en beespotjie. Almal wil ’n geselsie maak, maar oom At is meedoënloos ernstig aan ’t skep en vee hier en daar sagkens oor die rand van ’n bord waar ’n sousie dalk gespat het.

Iewers agter sy baard bewe darem ’n glimlag wanneer hy vertel hoe hy sestig afvalle op ’n slag gaarmaak met sout, peper, kerrie, asyn, ’n branderigheidjie, aartappeltjies en nog so ’n paar ander goedjies.

Oom At het die kuns vervolmaak. En dit is presies wat afval is: ’n kuns – nederig gebore, maar met ’n ryke tradisie – wat deur Afrikaanse mense en ander liefhebbers lewend gehou word.