1. Artisan-kos

Gespesialiseerde produkte steek oral kop uit! Die kos word met die hand gemaak deur iemand met 'n passie vir één produk. Soos Andy Fenner, wat spesialiseer in vleis, en Honest met hul sjokolade. Op die oomblik is ek baie beïndruk met Schoon de Companje wat onlangs in Stellenbosch een dak oor ‘n paar spesialis-stalletjies geopen het. Hier kry jy Frits Schoon se bekende De Oude Bank Bakkerij-brode en veel meer, soos spesialis-roomys en -koffie.

2. Mikro-bierbrouery

Klein bierbrouerye is nou baie populêr! Ek praat nie van die garage-bier wat mense self maak nie, maar van kleinskaalse brouers soos Darling Brew, Jack Black of (my gunsteling) Devil's Peak. 'n Devil's Peak bier-etiket

3. Skyn-en-verdwyn-restaurante

Kokkedoor is vinnig besig om te wys hoe dit gedoen word! Tiaan en Mynhardt toer nou deur die land en sal binnekort naby jou dorp ‘n Skyn-en-verdwyn-restaurant vir ‘n naweek opslaan sodat jy ook hiervan kan deel wees! Die Kokkedore se Skyn-en-verdwyn by Langebaan

4. Kos-karvaan

Die Amerikaners het lank gelede al die ‘food truck’ gehad, maar in SA doen ons dit met ‘n bietjie meer klas! Kos-karavane is nie net vir draairoomyse langs die see bedoel nie. Bertus Basson het dit beslis bewys met Die Wors-Rol se geel karavaan.

5. Kosmarkte

Persoonlik lewe ek vir ‘n sonnige Saterdagoggend by ‘n kosmarkie! Min dinge is so ontspannend ná 'n harde week se werk. As jy gewonder het wat die nuutste kos-tendense is en persoonlik met die kokke wil praat, moet jy hier inloer!

Elke Kapenaar móét by die Old Biscuit Mill'n draai maak, en Pretorianers by die Hazel Food Market

Die jaar lê al weer byna op sy rug - spring vinnig om die onlangse kos-tendense te ervaar vóórdat 'n nuwe een weer sy kop uitsteek!

Probeer dié week 'n nuwe kos-tendens!

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Volg my ook nou hier en kook saam:Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok