Jy dink jy's cooler as ekke, want jy eet Swartwoud-ham op jou sarmie

Jy dink jy's cooler as ekke, want jou bord is vol salami

Jou vriende eet bologna, myne eet French polonie

Ek's die ou wat crave vir rooiworsies

Jy gooi dit uit saam met jou ciabatta-korsies

(Met baie apologie aan Jack Parow)

Kouevleis is behoorlik 'n karnaval van keuses, geure en smake. Dis skynbaar ook 'n waterskeiding vir goeie smaak en swak smaak. Daar's peperdure prosciutto uit Parma en salsiccia vir die smulpaap, Iberiese jámon van akker-gevoerde swart varke vir die aficionado en chorizo vir die tapas-uur. Dan's daar ook koue frikkadelle vir padkos, blikkies-Viennas en polonie vir die platsak.

Dis juis die arme polonie wat so hoog op lekkerbekke se verdoemingslys verskyn. Net so vurig is die polonie-kampvegters - mense soos fotograaf Dirk Pieters wat op 'n missie is om dié kouevleisie se reputasie te beskerm. Hy't grootgeword sonder 'n pa en onthou hoe hy baie tyd deurgebring het met hul tuinier, Addison, vir hom 'n belangrike figuur van wysheid, manlikheid en liefde. Terwyl hy rondgehang het, het Addison geskoffel. Oor teetyd het hulle dik polonietoebroodjies van vars witbrood geëet met soet, melkerige tee.

"Dit is vir my onmoontlik om 'n poloniesnob te wees, want Addison sit saam in my hart met 'n lekker poloniebroodjie."

Nog 'n man wat op polonietoebroodjies grootgemaak is, is my buurvrou Anita se seun, Jaco. Sy het dit selfs in resepvorm vasgelê - Skooltoebroodjie vir Boetie. Die kinders het pouses hul broodjies uitgeruil, onthou sy. "Maar op polonie-dag het Boetie syne net vir homself gehad. Die kinders het nie geweet hoe lekker dit was nie, omdat dit so gross gelyk het met die geel mosterdsous."

Min sou Buurvrou weet dat die moederliefde wat saam met die poloniebroodjies in daai kosblik beland het, jare later steeds vertroosting bied vir haar seunskind (vandag 6 voet6met 'n doktorsgraad). In der waarheid, dit was maar net die begin van Jaco se penchant vir polonie. Hy word steeds soms oorval deur 'n behoefte aan morsige kos (iets totaal anders as gemorskos).

"Ek bedoel morsig, soos 'n treinstasie-russian of, nog beter, 'n polonie-gatsby [uitgeholde witbrood gevul met polonie] as ek platgeslaan is deur die oerbehoefte aan vertroosting."

Weense worsies is ook 'n bekende down in the dumpsbesweerder. Vra net my vriend David uit oor sy skelm Viennaetery. David is bekend as 'n connoisseur van mooi en stylvol leef, 'n man wat al die grootste gastronomiese plesiere beleef het in die wêreld se voorste kostempels.

"Hoe donkerder die wolk oor die gemoed, hoe groter die drang na rooiworsies." En, bieg hy, die ritueel begin by die inkopies. "Jy gaan shop alleen, iewers by 'n keffie waar niemand jou ken nie. Jy koop niks anders nie en dra ook nie 'n mandjie nie, want niemand moet in jou mandjie kan loer en net die eensame pakkie rooiworsies sien nie."

My eie sagte plekkie vir polonie het ook 'n storie. Dis deel van my erfskat. My oupa Charles Möller het vir my ma resepteboeke in sy sierlike onderwysershandskrif uitgeskryf as deel van haar bruidskat. Die boek begin met 'n uitgebreide verduideliking "hoe om polonie te maak".

"Polonies word gemaak van die taaiste dele van die os soos die nek, opgesny in klein stukkies en dan gesprinkel met sout en bietjie salpeter," skryf Oupa. Die dae lange insouting word opgevolg met die vleis se malery, stukkies spek, fyngestampte of heelpeper, aartappelmeel en koeksoda. Oupa was streng met die verhoudinge: halwe pakkie koeksoda vir 40 pond vleis. Goedgemeng en geknie soos 'n brood word dit lekker styfgestop in os- of koeiderm, die ente vasgemaak en oornag gerook. Daarna word dit gestoom vir byna 'n uur.

"Die kleursel kry mens by die apteek," skryf hy. "Dit word genoem polony colouring - Bavarian rooi gee 'n mooi pienk." Ja, ek sal bitter graag iewers in Barcelona glinsterende flertse dekadesverouderde jámon wil proe en op 'n Toskaanse dorpsplein wil smul aan vinkelgeur-salami. Maar ek sal wat wou gee vir Oupa se tuisgemaakte polonie - op winkelwitbrood. Al sê die kossnobs wat.