Wat is laktose?

Laktose oftewel melksuiker is die suiker (koolhidraat) wat inmelk (van soogdiere) en, in kleiner hoeveelhede, in melkprodukte voorkom. Dit word in die dermkanaal deur die spysverteringsensiem laktase afgebreek tot die eenvoudige suikers glukose en galaktose.

Laktose-intolerant: die simptome

Dit verskyn binne 20 – 30minute by ’n kind en binne sowat 30 minute by ’n volwassene nadat hy/sy melk gedrink het. Die simptome is opgeblasenheid, maagkrampe, waterige diarree, naarheid en winderigheid. Sommige studies dui daarop dat laktose-intoleransie selfs dikderm-irritasie (prikkelbare-dermsindroom) kan veroorsaak.

 Wat jy moet weet

’n Voedsel-intoleransie of -onverdraagsaamheid is ’n abnormale reaksie op die kossoort wat jy geëet het. Dit word veroorsaak deur die onvermoë van die liggaam om die spesifieke voedsel te verteer en te verwerk weens die tekort aan ’n spesifieke ensiem. Melk- of laktoseintoleransie ontstaan by mensewat glad nie of te min van die laktase-ensiem het.

  • Laktosevrye baba-melk-formules sowel as laktosevrye melk vir algemene gebruik is vrylik en maklik beskikbaar by alle supermarkte.
  • Rysmelk en sojamelk kan gebruik word. Om genoegsame kalsium in jou dieet te verseker moet jy ’n goeie aanvulling kies.
  • Lees voedsel-etikette om melkbronne te vermy. Brood, lekkers, soppe, sommige koue vleis, vla, botter, margarien, room, ens., bevat almal koeimelk.

GOEIE NUUS

Ja, Jy kan steeds sekere suiwel eet!

  1. Jogurt Bevat goeie bakterieë (lewende kulture) wat jou liggaam help om die laktose in die suiwel te verwerk. Kies jogurt met min bestanddele soos Grieks of Bulgaars wat minder laktose bevat.
  2. Verouderde kaas Hoe ouer en harder ’n kaas is, hoe minder laktose bevat dit. Laktose kom voor in die wei-gedeelte van melk en gaan verlore in die kaasmaakproses. Kaas soos parmesaan, pecorino en verouderde cheddars bevat min laktose.
  3. Laevet-suiwelprodukte Eet die suiwel in baie klein hoeveelhede saam met ander bestanddele. Jou liggaam verwerk dit makliker as jy dit saam met iets soos proteïen eet.

*bron www.eating-made-easy.com