Appelliefies
Appelliefies behoort aan dieselfde familie as die tamatie en is heldergeel, soet en vol saadjies. Elke bessie is toegedraai in ’n papieragtige jassie wat dit meer as 30 dae vars kan hou – moet dit nie verwyder nie. Dis gesog in konfyt, slaaie en terte.

Swartbessies
Behoort aan die doringagtige roos-familie en is ’n versamelvrug omdat die bessie uit ’n klomp kleiner vruggies bestaan. Hulle word donkerpers en sag as hulle ryp is en het ’n suur-soet smaak wat heerlik is in nageregte, konfyt en muffins. Swartbessies vries goed.

Frambose
Nog ’n versamelvrug. Ryp frambose (raspberries) het ’n delikate tekstuur, soet geur en effense suur smaak. Dit het ‘n hol binnekant en bederf vinnig. Kyk vir ferm bessies met ’n dieprooi kleur. Dit vries goed en is ’n gunsteling in konfyt, coulis en smoothies.

Bloubessies
Bloubessies word indigo-blou sodra hulle ryp is en het ’n matige soet smaak. Vars bloubessies het ’n wasagtige wit laag wat die oppervlak beskerm. Hulle word as supervrugte geklassifiseer vanweë hul hoë konsentrasie voedingstowwe en antioksidante. Gewild in muffins, plaatkoekies en saam met jogurt vir ontbyt.

Aarbeie

Verreweg die gewildste bessie ter wêreld, met meer as 600 soorte. Ryp aarbeie is dieprooi en ferm met ’n soet geur en smaak. Vermy dié met ’n vaal kleur of geel kolle, aangesien aarbeie nie verder ryp word nadat hulle gepluk is nie.


Het jy geweet?

Nie alle “bessies” is streng gesproke bessies nie – soos bv. die aarbei, want die saadjies sit aan die buitekant van die vrug.