Lief vir avokado? Hier’s top-resepte!

akkreditasie
Al dra ’n avo ’n growwe baadjie, is en bly hy ’n heerlike maatjie!

Ja, al is die skil van die vrug soms groen, soms donker, bly die ryp binnegoed ’n heerlike pasmaat vir menige maaltye.

En regoor die wêreld beskou mense die heilsame vrug as ’n staatmaker.

Hier deel ons vinnige feite en natuurlik maklike resep-idees:

Sewe vinnige feite:

1. ’n Avokado is ’n vrug, nie ’n soort groente nie. 

2. In die Filippyne verpulp hulle dit met melk en suiker en eet dit as nagereg. In Brasilië voeg hulle dit by roomys. 

3. Suid-Afrikaners eet sowat 0,859kg avokado per jaar teenoor die Amerikaners se 2,5kg. Elke Mexikaan eet ’n volle 8 kg per jaar!

4. Laat avokado’s teen kamertemperatuur ryp word – dit werk die beste.

5. Moet dit nooit kook of oorgaarmaak nie. Hoe rouer die avokado, hoe lekkerder smaak dit.

6. ’n Enkele avokadoboom kan tot 500 vrugte per jaar lewer. In Suid-Afrika is dit nou byna heeljaar beskikbaar en groot hoeveelhede word na Europa uitgevoer.

7. Avokado’s bevat baie “goeie vette” en dit kan ingesluit word by ’n verslankingseetplan. Die vet in avokado’s is hoofsaaklik mono-onversadig. Voedingskenners meen ons moet meer van hierdie soort vette inkry.

Vier vinnige roosterbrood-idees met avokado's:

(Kloksgewys van links-bo)

1. Camembert-kaas en gerookte forel met dun gesnyde avokado

2. Gerookte makriel met kaas en fyngedrukte avokado

3. Spek, kaas, tamaties en avokado in blokkies gesny

4. Pizza-broodjie van mozarella-kaas, olywe, salami en vars avokado

Hoenderquesadillas met avokado en feta

genoeg vir 4

Verhit oond tot 200 °C. Plaas 4 hoenderborsies (500 g) in ’n oondvaste bak en sprinkel eers 45 ml olyfolie, dan 2 gekapte knoffelhuisies en sap van 2 suurlemoene oor. Oondbraai 20 minute of tot goudbruin en gaar. Plaas 4 (van 8) tortillas op bakplate en smeer 2 fyngedrukte avokado’s met ’n lepel se agterkant daaroor. Breek gaar hoender in stukke en verdeel tussen tortillas. Krummel 200 g fetakaas oor, gevolg deur ½ gekapte ui en 2 grofgekapte tamaties. Sprinkel hand vol vars fyngekapte koljander oor en geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper. Plaas tweede tortilla bo-op elkeen en druk stewig vas. Plaas terug in warm oond en bak 10 - 15 minute of totdat fetakaas gesmelt het. Sny in kwarte met ’n skerp mes en sit warm voor.

Pizza met songedroogde tamaties, fetakaas en avokado

genoeg vir 1 pizza

Verhit oond tot 230 °C. Plaas 1 gekoopte pizza-basis op ’n bakplaat. Sprinkel 125 g gerasperde mozzarellakaas bo-op. Sprinkel 1 wiel gekrummelde fetakaas oor en rangskik 8 gemarineerde songedroogde tamaties bo-op. Geur met varsgemaalde swartpeper en sprinkel bietjie olyfolie oor. Plaas in oond en bak 10 – 12 minute. Haal uit en rangskik ½ avokado, in skywe gesny, en vars basiliekruidblare bo-op.

Lemoenhoender-en-avokadopastaslaai

genoeg vir 4 

Maak marinade van sap en skil van 1 lemoen, sap en skil van 1 suurlemoen, 5 cm-stuk gerasperde gemmer, 2 fyngekapte knoffelhuisies, 1 fyngekapte brandrissie en 15 ml heuning. Laat 400 g ontbeende hoenderborsies, in repe gesny, in sous marineer. Kook 250 g strikkiepasta (farfalle) volgens aanwysings op pak en spoel onder koue water af. Hou eenkant. Verhit ’n pan en braai hoender in marinade tot gaar (marinade sal wegkook). Sit pasta, hoender, 2 avokado’s, in blokkies gesny, 80 g klaargaar bevrore ertjies, 100 g grofgekapte amandels en 5 gekapte sprietuie saam in groot mengbak. Maak slaaisous van 60 ml olyfolie, sap van 1 lemoen, sap van 1 suurlemoen en 15 ml heuning. Gooi oor slaai en meng goed deur.

Kool-en-avokadoslaai

genoeg vir 4

Gebruik voedselverwerker en rasper 500 g kool (½ kop) en 2 klein vinkelknolle (fennel) in fyn repies – of sny dit fyn met die hand as jy nie so ’n toestel het nie. Plaas in groot slaaibak en voeg hand vol vars, fyngekapte koljanderblare, 100 g geroosterde okkerneute, en 4 avokado’s, gehalveer en in repies gesny, by. Meng 100 ml melk, 250 ml mayonnaise en 1 fyngekapte rooi brandrissie. Geur goed met sout en varsgemaalde peper. Gooi oor slaai en meng deur. Proe en geur weer met sout en peper indien nodig. Sit voor.

Bruschetta met steurgarnale en avokado

genoeg vir 4

Verwyder stertjies van 400 g gaar steurgarnale, maar behou ’n paar met stertjies eenkant vir garnering. Sny 2 avokado’s in blokkies. Plaas steurgarnale en avokado in ’n mengbakkie en voeg 15 g fyngekapte grasuie by. Meng 125 ml romerige mayonnaise, 30 ml tamatiesous, 5 ml worcestersous en 15 ml suurlemoensap in ’n bakkie. Voeg Tabasco-sous druppelsgewys by tot dit reg is na jou smaak. Gooi sous oor steurgarnale en avokado en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Meng versigtig en hou eenkant. Verhit ’n kwart van 120 ml olyfolie in ’n pan. Braai 2 van 8 snye ciabattabrood op ’n slag tot weerskante goudbruin. Dreineer en herhaal met res. Plaas bruschetta op groot opdienbord en skep steurgarnale bo-op. Garneer met steurgarnale met stertjies aan.

JONGSTE UITGAWE

September/Oktober-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees