Kry ook HIER resepte vir koekies wat jy as geskenke kan gee

Liezl se resep

Speserykoekies

Genoeg vir ’n koekie-Kersboom, selfstaan-koekies en ster-toutjies

  • 250 ml gouestroop
  • 300 g botter
  • 1,5 kg koekmeel
  • 800 g suiker
  • 5 ml naeltjies
  • 5 ml koljander
  • 10 ml gemmer
  • 4 eiers

Smelt gouestroop en botter saam. Plaas koekmeel, suiker en speserye in ’n mengbak, voeg gesmelte botter by en roer deur. Voeg eiers by en meng goed. Vorm deeg in ’n platterige sirkel, bedek met kleefplastiek en sit in die yskas vir 20 - 30 minute.

Wanneer jy gereed is om uit te rol, verhit jou oond tot 180 °C.

Versiersel

  • 2 eierwitte
  • 500 g versiersuiker

Klits eierwitte met ’n elektriese klitser tot sagte punte vorm. Voeg versiersuiker lepel vir lepel by. Hou bedek eenkant tot gebruik.

Wenk: Ek gebruik wit en silwer pêreltjies om koekies af te rond. Te kry in die supermark-gang met die bakbestanddele.

Koekie-Kersboom

Rol ¼ van die deeg uit tot 3 mm dik. Gebruik ’n stel ronde koekiedrukkers (minstens 3 verskillende groottes) en druk 2 sirkels van elke grootte uit. Plaas op bakpapier op ’n bakplaat en bak teen 180 °C vir 8 - 12 minute. Laat toe om af te koel op ’n draadrak.

Neem twee koekies van dieselfde grootte en plak die onderkante vas met ’n bietjie versiersel. Skep nou op die grootste koekie ’n lepel versiersel en plak die kleiner koekie bo-op, druk effens om versiersel uit te stoot. Herhaal tot kleinste koekie bo-op is. Rond af met ’n ster van jou keuse.

Wenk: Pasop om te veel versiersel op die koekies te skep, anders loop dit oor die rande en mors.

Selfstaan-koekies

Rol deeg uit op meelbestrooide werkvlak tot 3 mm dik. Gebruik koekiedrukkers om sterre uit te druk. Elke selfstaan-koekie benodig 2 uitgedrukte koekies.

Sny nou ’n gaping van 'n ½ cm twee derdes deur die eerste ster van onder af. Sny dan ’n gaping van dieselfde grootte deur 'n derde van die tweede ster van bo af.  Herhaal met elke ster-paar. Bak teen 180 °C vir 8 - 12 minute. Laat toe om af te koel op ’n draadrak.

Versier koekies soos jy wil, laat toe om droog te word en pas hulle inmekaar.

Ster-toutjies

Hang hierdie string koekies teen jou voordeur, teen die muur of aan die Kersboom.

Rol deeg uit op meelbestrooide werkvlak tot 3 mm dik. Gebruik koekiedrukkers om sterre uit te druk. Maak twee gaatjies met ’n sosatiestokkie 2 cm uit mekaar. Bak teen 180 °C vir 8 - 12 minute. Laat toe om af te koel op ’n draadrak.

Ryg ’n lint deur die koekies en hang op om te versier.

Dekor, hemelse geur én eetbaar - wat meer wil jy hê uit jou Kersversierings?

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets KokVolg my ook nou hier en kook saam:

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok