Kerstyd bly my gunsteling-vakansie, en hierdie jaar kom met die bonus van ons eerste spierwit Oos-Europese Kersdag.

Ek sien so uit na nuwe tradisies. Soos deure en selfs motors versier met vars sitrusvrugte. En my plantjie staan reg vir my eerste Montenegrynse Kersfeesbrood, cesnica, ’n ronde brood wat baie stadig moet rys en bo-op versier word met godsdienstige simbole. Daar is honderd verskillende rituele rondom hierdie brood, met die mees algemene ’n waardevolle muntstuk wat ingeknie word. Met die Kersete se aansit word die cesnica drie maal kloksgewys gedraai voordat elke familielid ’n stuk afbreek. Die een wat die muntstuk kry, sal veral geseënd wees in die jaar wat kom. 

Ou brode is juis nou groot mode, met sommige wat glo dat ’n lang, stadige rysproses die negatiewe effekte van gluten uitskakel.

Elke hoekie van die aarde het sy eie eetgewoontes rondom godsdienstige feesmale, maar wat ek as universeel sien, is die ontsettende toename in vegetariese eetgewoontes. Die supermark Waitrose het hierdie jaar ’n massiewe 200 produkte vir die Kersseisoen wat vegetaries is. “Vry van”-produkte (sonder gluten en suiwel) kry ook toenemend rakspasie. Nog ’n supermarkgroep, Asda, meen daar sit vanjaar om tot 60% van Britse tafels iemand wat ’n “vry van”-ete nuttig. 

Nog trends wat ek sien:

Hiperlokaal

Nuttig wat naby jou groei/swem/wandel – snoek vir die Kapenaars en gerookte bergham van die dorpie Njegusi vir ons.

Grazing tables 

Vergeet van voor-, hoof- en nagereg – pak ’n groot kaasbord. Jou hele tafel word ’n peuselhappie met druiwe, hamme, kase en piekels. Doen dieselfde met jou nagereg, byvoorbeeld meringues en gestolde nageregte met souse en vars vrugte.

Piekels en ander gefermenteerde groente

Op my wenslysie vir Kersvader is Noma se boek, The Noma Guide to Fermentation. Prag-flessies vol gesondheid op die tafel. My gunsteling op die oomblik is Russiese gepiekelde heel tamaties. Heerlike bloedrooi geurbomme met die bonus dat die piekelsous enige vodka in die bloedstroom neutraliseer (of so glo my vriende hier).

Karamel

Van gesoute karamel, Kersfeespoedings bedruip met karamel-vodka tot Noorweegse bruinkaas, brunost (’n kruis tussen kaas en karamel).  

pampoenpoffers
Herman Lensing se slaphakskene met mosterdsous in SARIE se Desember-uitgawe. FOTO: Michael le Grange

Soetigheid op brood 

Gewild is ’n doopsous van cannoli-vulsel, spekulaasbotter, dulce de leche en ander soortgelyke melkkonfyte van reg oor die wêreld. Die Filippynse soort het eier by, ons s’n gekookte kondensmelk, en ek het onlangs matcha-gegeurde Franse melkkonfyt present gekry. Geur ook jou eie met Earl Grey-tee of gesmelte donkersjokolade. 

Beet, kool of patat Wellington 

Groot gebakte groentes verder versier soos ’n bief Wellington en voorgesit met soetsuur bessiesous.  

Gemmerbrood as ’n geursel 

Dink aan gemmerbrood-en-appelkoosfrikkadelletjies, eend gestop met ’n gemmerbrood-en-druiwevulsel, selfs kaasballetjies gerol in gemmerbroodkrummels.

Groente in alle stadiums van gaar 

Soos jy jou biefstuk blou, medium of goedgaar kan bestel, sien ons nou groente in alle gedaantes. Van rou, skrikgemaak maar steeds bros, lank en stadig gebak tot geskroei. Maak ’n tamatieslaai met geskroeide uie en tamaties gemeng met gekapte klein tamaties, vars kruie en ook ’n bietjie vars kruisement. Sprinkel net voor opdiening brosgebraaide uie of tamatieskilletjies oor. As jy dit ook nog geur met die nuwe kosliefling, timut-peper, is jy tereg voor in die koor.

f
Herman Lensing se slaphakskene met mosterdsous in SARIE se Desember-uitgawe. FOTO: Michael le Grange

Ontspanne onthaal

Vir van dié wat die groot gekook wil vermy tot diegene wat sukkel met beurtkrag, is daar toebroodjies met Kersfeesgeure, soos kalkoenskyfies met ’n lagie stuffing en piekels. Of bubble and squeak, nie as ’n oorskietgereg nie, maar ’n hoofgereg. Goedkoper kan dit nie. Dit is ook in lyn met zero vermorsing – alle lekkernye wat oor is in jou yskas goedgegeur en brosgebraai.

Slim en prettige soetgoed

Piepklein gemmerbroodhuisies en malvalekkers met oordadige versierings. Jy kan nou selfs familiefoto’s laat druk op malvalekkers. Nageregte in die vorm van snow globes en meringues in grootmens-geure soos whisky en warm wyngeure. Kleinkoekies versier met neon kleure. 

Hierdie jaar is ons ook gelukkig om sommer twee maal te vier. Kersfees op die 25ste saam met die ander immigrante, en dan weer Montenegro se groot fees in Januarie.   

’n Geseënde Kersfees aan almal!

Liefde van Tivat