Die bome hier in Montenegro is tans behang van die groot granate, swaar van pit en sap, net reg om gepluk te word. Met die winter se koue op pad val dit my op hoe perfek elke granaat lyk, anders as my kinderdaeherinneringe van granate wat oopbars van die hitte.  

Ons het intussen verhuis, verder en dieper die berge in. My eie Eden, met vrugtebome wat wild staan regom en rondom en toeganklik vir iedereen.

My nuwe buurvrou is ’n omswerwer soos ek, het die wêreld vol getoer en is nou so gelukkig om in die berge van haar kinderdae terug te wees. 

Hierdie Montenegrynse Heidi leer my woel met alles wat sy in berge opspoor. Op die oomblik kook sy sommer buite in die veld bottels vol granaatmelasse. Volgende op die lys is granaatpitte droog en dan in haar koffiemeultjie maal. Reg vir die lang winter voor ons.

Granate is mos ook een van die superkosse wat alles kan gesond maak, van sukkel in die slaapkamer tot die bevegting van kanker, diabetes en respirasieprobleme. O, en voor ek vergeet, ook goed vir die geheue.

In my lewe het ek nog nie soveel toegang gehad tot granate nie. Die bome om my se pitte is erg suur, glo die beste een om te droog en vir die bevegting van verkoue.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Effe affer in die pad is ’n oom wat vir my gereeld sjampanjekleur granate gee, stroopsoet met die grootste pitte wat ek nog ooit gesien het.

Ek koop groente by ’n markie naby die dorp en vir onder drie euro het ek gister ’n krat vol supersoet granate gekoop. My seun Max is nou al bobaas-skiller en -ontpitter en raak ’n granaat baas binne sekondes. Ook maar goed, want tussen ons verorber ons maklik tien per dag. 

My boeglam geskrik toe ek oplees oor hoe hoog dit is in suiker, maar ek troos my dat dit wel geprop is van nutriënte en glo drie maal die antioksidante het as groentee. 

Ek het vir die eerste maal ’n ou Persiese gunsteling, granaatsop, geproe. Dis glo Noord-Iran se hoendersop-ekwivalent. Beet, gedroogde bone en granaatmelasse. Soveel diepte in die smaak, die aardsheid van die beet en die eksotiese soet/suur van die granaat.

Danksy Yotam Ottolenghi is ons almal bekend met geroosterde eiervrug met tahini en granaat, maar ek beveel ook die volgende aan. Braai ’n picanha-steak in sjokoladebotter en bedruip dit met granaatmelasse.

Granaatmelasse is doodmaklik om te maak – los sommer die ekstra suiker uit en kook net die sap af tot stroperig en stoor dan in die yskas.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die granaatstroop (grenadien) wat jy op die rakke vind, bevat dikwels byna geen granaatsap meer nie en is net ’n soetspul met kleursel, so maak jou eie met granaatsap, suiker en suurlemoensap. Bedien met sjampanje of in ’n pienk mojito versier met granaatpitte. Die sap word ook gesien as ’n teenvoeter vir die latere hangover.

Vervang balsamiese asyn in resepte met grenaatmelasse vir ’n eksotiese smaak – dis ’n baie goeie pasmaat vir veral ribbetjies en hoender.

Granaatpitte gedroog en effens gemaal maak vir die lekkerste aloo-kerrie.

Granate kom met ’n ryk geskiedenis en word in sowel die Bybel as Koran genoem, so dit is net gepas dat hierdie superkos weer ’n alledaagse bestanddeel word, hetsy vars of gedroog, of in ’n molasse- of olievorm.

Wenk: Vergeet van mense wat sê halveer en slaan hom met ’n houtlepel, dit raak morsig.

Ons metode is om hom te takel nes my oupa met lemoene gemaak het. Sny versigtig ’n sirkel skil bo af en lig die hoedjie sonder om die pitte te steur. Dit lyk nou amper soos die brein. Kyk waar die segmente is en sny met ’n skerppuntmes kepies in die skil soos jy ’n lemoenskil sou afskil as jy langpad ry. Sny nou ook ’n sirkel af onder en kraak oop. Geen pitte word gekneus nie en die sap, wat om ’n goeie rede as ’n kleursel in ou dae gebruik is, kom nêrens naby jou klere nie.