Die Balkanlande is besig om van my ’n gesonder, meer bewuste eter te maak.

My lewe aan die Kaap was gejaagd en besig, met die gerief van fantastiese supermarkte en koswinkels op elke hoek.

Hier is dit maar erg landelik, en dit wat net-net as ’n supermark in Suid-Afrika sou kwalifiseer, is twee uur se ry weg. Terwyl ek dikwels met snikke verlang na net gou ná werk padaf ry, leer ek so baie by my Oos-Europese vriendinne oor hoe om meer natuurlik en uit die natuur te eet.

November is nou maar eenmaal dieetmaand, want almal van ons wil Kersfees en die nuwe jaar in ’n gesonder en ligter gewaad aanpak.

Die nuutste hoogmode-eetplan is die keto-dieet, volgens my maar bloot Atkins en paleo in die mees ekstreme vorm. Hoog in dierproteïene, laag in koolhidrate en suiker.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Hoewel daar sekerlik voordele is aan so ’n dieet, het so ’n eetplan my nog nooit aangestaan nie.

Meer gepas vir my is my Poolse vriendin en top-gesondheidsetertjie Anja se detoksplan uit die pen van die bekende Poolse dieetkundige dr. Ewa Dabrowska.

Dr. Ewa meen dat ’n eetplan gebaseer op groente, vrugte, grane en bone die liggaam help om homself gesond te maak en dat ’n verlaging in die energie in jou maaltye die antwoord is vir lank en goed lewe.

Haar idee is dat ons wegbeweeg van groot rys-vleis-en-aartappel-maaltye en eerder hap-hap soos Pac-Man ons proteïeninname deur die dag spasieer. Ook dat ons dit eerder vind in plantprodukte soos broccoli, ertjies, swartboontjies, edamame, sampioene, aspersies, groenboontjies, amandels, quinoa, seegras, lensies, tofoe en tempeh.

In geheel pas haar plan goed by mense soos ek wat oortuig is dat dierprodukte nie ons grootste bron van proteïen moet wees nie.

Die globale prentjie van ’n maaltyd verander gedurig en nou voel dit nóg vinniger met die toename in veganisme.

Ek staan verbaas voor die winkelrakke as ek sien hoe baie happies wat voorheen koolhidraatprodukte was, nou ’n baadjie van proteïen kry, soos pastas, tjips, ontbytgrane en selfs roomys.

Op my ontbytpap, Protein Granola (’n mengsel van rou neute en sade), is dié ellelange lys vol inligting:

76% neute en sade. 18% proteïen. Vesel vir Afrika. Geen bygevoegde suiker, geen melkprodukte, vry van palmolie, kleursel en geursel.

Gekoop by ’n doodgewone supermark, nie ’n gesondheidswinkel nie.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Veganisme bring ’n tsoenami van veranderinge. Groente is die liefling van sjefs – soveel om te leer en ’n nimmereindigende lys van bestanddele. Gaan loer gerus na #veganhour 21:00-22:00 (SA tyd) op ’n Dinsdagaand op Twitter. As daar eers ’n junk food van ’n genre bestaan, dan weet jy dit is hoofstroom – tot Pizza Hut het nou vegan-opsies.

Vir ons voor-feestelike detoks volgens dr. Ewa se aanbevelings het Anja sigoreikoffie uitgedeel, swart sout wag reeds op ons rak, en ons probiotiese beet is gemaak.

Ligte groentesoppe, -sappe en gestoomde groente is die volgende tien dae ons voorland. Selfs die spruite mag net wees van nie-olierige sade soos radys.

Hier is ons vinnige resep vir beetprobiotika:

Skil 6-8 bete en sny in kwarte. Sit 2 knoffelhuisies en 6 peperkorrels in ’n pot en dan bo-op dit die beet. Meng 3-4 koppies kookwater met 1½ eetlepels swart sout en gooi oor beet om te bedek.

Skep elke oggend die skuim af. Giet ná 4 dae die vloeistof af en bewaar in die yskas. Moet nooit op ’n leë maag neem nie. Jy kan die bete in sop of ’n bredie gebruik.

Ons wil almal gesonder leef en ek wil graag ’n voorbeeld vir my kinders stel. Ek was te lank ’n dinosourus wat nie wou verander het nie. Kyk nou vir my!