Hier in Montenegro groet ons nou Somer ’18, net op die tyd dat my vriende en familie tuis in Suid-Afrika halfhartig begin prewel van gewig afskud vir die Suidelike somer.

Die winters hier is snerpend en vol sneeu, en ek beplan reeds aan my eerste spierwit Kersfees. Maar ek kan my nie my tafel voorstel sonder my snye yskoue perfek-getooi-in-Krismiskleur waatlemoen nie. Dit is immers vir my die vrugtesimbool van somer en die heel natuurlikste Kersversiering wat aan ons Suid-Afrikaners gestuur word.

Waatlemoen was orals om my in ons heerlike Europese somer. Van die soetrooi krakerige waatlemoen wat voorgesit is met sagte, romerige bokmelkkaas en seesout in Griekeland tot die alomteenwoordige trippel-M’s van margaritas, martini’s en mojitos by partytjies en troues, almal in ’n prag-roospienk.

Verrassend ook was die heerlike drankhappies: waatlemoenblokkies wat jy met vodka of jenewer besprinkel. Jy druk dan die een kant in varsgemaalde swartpeper en rond dit af met ’n piepklein skyfie lemmetjie.

(Waatlemoen was die somer boonop in die mode in van geurmiddels tot skoonheidsprodukte, handsakke en selfs die meer banale opblaasmatrasse!)

Victoria Beckham het vir haar verjaardag ’n “koek” geniet wat basies net waatlemoen was wat in die vorm van ’n koek gesny en met vars bessies versier is. Dit het my herinner aan die heerlike rou waatlemoenkoek wat in my en Callie se eerste boek, Koeke ter viering van liefde en lewe (2009), was. Die waatlemoenskywe met klapperbotter en ’n rou beetvulsel het redelik kritiek gekry, maar daardie neusoptrekkers is nou duidelik verkeerd bewys. Rou “gebak” was toe reeds gewild op die superjagte waarop ons gewerk het en deesdae het kos in rou vorm ’n groot aanhang.

Die blog watermelon.org sê waatlemoen is die vrug om dop te hou. Hul studies toon dat ’n allemintige 80% van alle mense aanhangers is, nie net oor die smaak nie, maar ook danksy ander voordele soos hidrasie (92% van ’n waatlemoen bestaan uit water) en die antioksidant likopeen, wat net soos by tamaties verantwoordelik is vir die mooi rooi kleur.

Dis boonop perfek vir die “root-to-stem”-beweging – alles van die waatlemoen is eetbaar. Vinnige piekels van die skil is gewild en soos in China kan dit ook in repies gesny en geroerbraai word.

Waatlemoen wen al hoe meer as vrugtegeur in nie-alkoholiese drankies, en hier by ons is alkoholsodas met ’n waatlemoengeur baie gewild.

In Amerika is dit een van die bestanddele wat al hoe meer op spyskaarte verskyn, met amper 1 uit 10 eetplekke wat dit in slaai of nagereg voorsit 

Ook op veganistiese spyskaarte word dit ingespan – as rou lasagne-“velle” voorgesit met kasjoeneutroom, tamatiesalsa en basiliekruidpesto.

Waatlemoen kan vinnig geskroei word op die stoofplaat of stadig gebak word in die oond. Sny dit in biefstukvorms, sprinkel olyfolie en balsamiese asyn oor, en geur met sout en peper asook ’n paar tiemietakkies. Bedek met foelie en bak by 160 °C vir omtrent 20 minute, afhangend van hoe dik en ferm dit is. Dit word fermer en herinner aan tunasteaks. 

Oulike slaai-idees: Sny waatlemoen in die vorm van slaptjips en sit voor met lemmetjiegegeurde jogurt.

Self het ek dit nog nie geproe of raakgeloop nie, maar gedroogde bros waatlemoentjips is definitief op my toekomslysie. So ook verskyn waatlemoen nou as vrugtestafies en selfs vrugteleer

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Nog vinnige idees:

* Sny waatlemoen in dun carpaccio-skyfies, sprinkel rysasyn oor en sit voor met wasabi-gegeurde avokadoroom.

* Ryg waatlemoen- en haloumi-blokkies op ’n sosatiestokkie, braai vinnig en sprinkel gerasperde lemmetjieskil en Maldon-sout oor. 

Instagram is propvol waatlemoenfoto’s en -idees soos slushies, smoothies en sorbets, almal perfekte pasmaats vir die millenniërs se voorliefde vir pienk. Een van die virale prettighede van die laaste paar maande was die baie video’s van mense se honde wat gulsig snoep aan waatlemoenstukke. 

Waatlemoen kom oorspronklik van Afrika en veral Suider-Afrika – dit is óns vrug, perfek vir ons warm weer.

Ek is geleer om te klop-klop om te toets vir rypheid, maar kyk ook waar jou waatlemoen ná geboorte gerus het. Daai growwe stukkie onderkant moet ’n roomgeel kleur wees voor jy hom huis toe vat.

Die gewone verbruiker verkies waatlemoen goed rooi, en al is pitlose waatlemoene en verskeie variëteite, vorms en groottes algemeen beskikbaar, is die groot ou swaar waatlemoen met pit en al nog steeds die top-keuse.

Terwyl ek aan die laaste van my seisoen se soet smul, besef ek deeglik dat dit nog ver weg is vir Suid-Afrika. So as die rubriek jou waatlemoen-watertand het, moet jy maar volstaan met hierdie koek in die vorm van ’n waatlemoen uit ons 2012-boek, Markdag.

Waatlemoenkoeke

Ietwat van ’n bontspul, maar hope pret om te maak!

Lewer 2 koeke van ses porsies

Om die koeke te maak:

125 g sagte botter

sowat 2/3 koppie (120 g) strooisuiker

2 eiers

1 teelepel (5 ml) vanieljegeursel

1 koppie (140 g) bruismeel, gesif

2 eetlepels (30 ml) melk

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer en voer twee ronde 18 cm-koekpanne (of twee van 15 cm vir hoër koeke).

Gebruik die mengbak en die spaanhegstuk van ’n elektriese menger, en klop die botter en suiker saam tot lig van kleur. Voeg die eiers een op ’n slag by en skraap die sykante van die bak af ná elke byvoeging. Voeg die vanieljegeursel by en meng deur. Voeg die helfte van die meel by, dan al die melk en dan die res van die meel. Verdeel die beslag gelykop tussen die twee panne en bak vir 25-30 minute of tot die middel van die koek “terugspring” as jy liggies daarop druk. Laat die koeke afkoel in die panne voordat jy dit uitkeer.

Om die botterversiersel te maak:

125 g sagte botter

1½ koppie (210 g) versiersuiker, gesif

2 eetlepels (30 ml) melk

1 teelepel (5 ml) vanieljegeursel

rooi voedselkleursel

groen voedselkleursel

sjokoladesplinters vir versiering

Gebruik die mengbak en die spaanhegstuk van ’n elektriese menger, en klop die botter tot lig en romerig. Voeg die versiersuiker en die helfte van die melk by. Meng deeglik. As jy dink die mengsel is te styf, voeg nog ’n bietjie melk by. Verdeel die botterversiersel in twee gelyke dele. Kleur een deel rooi – gebruik net ’n paar druppels voedselkleursel op ’n slag en roer om te meng. Voeg nog kleursel by tot jy die verlangde skakering kry. Kleur die ander helfte van die botterversiersel met die groen voedselkleursel.

Versier die bokant van die koeke met die pienk botterversiersel en die kante met die groen botterversiersel. Druk die sjokoladesplinters in die pienk botterversiersel om te lyk soos waatlemoenpitte.